“Dit is net jou gewete wat jou uit die slaap hou,” het my ouma altyd gesê.
Namate die jare aangestap het, en ek self begin wakker lê het, het ek nie altyd met haar saamgestem nie.
Daar is baie redes waarom slaap ons ontwyk.
‘n Groot rede is geldelike krisisse. Ons leef in ‘n wêreld waarin die ekonomie stram is en dieselfde bedrag geld baie minder as ‘n paar jaar gelede koop.
Gesondheidsprobleme kan tot slapelose nagte lei. Bekommernisse oor geliefdes laat ons rondrol. Sommige mense se brein is so volgestop en oorgestimuleer dat hulle nie tot rus kan kom nie.
Werksdruk eis gewoonlik sy tol. Iewers in die vroeë oggendure begin mense wonder of hulle nie moet opstaan en verder werk nie; hulle slaap tog in elk geval nie.
Ongeveer ‘n derde van ons lewe moet aan slaap gewy word. Baie min mense slaag hierin. Daar is mense wat met baie min slaap steeds baie kan uitrig. Die meeste mense het egter genoeg slaap nodig om normaal te kan funksioneer.
‘n Tekort aan slaap lei tot allerlei probleme. Fisiek en emosioneel. Dan begin die bose kringloop. Hoe minder ons slaap, hoe meer sukkel ons; en hoe meer ons sukkel, hoe minder slaap ons.
As ons gelukkig is, is die krisisse tydelik van aard en word ons slaappatroon hervat. In ander gevalle raak slapelose nagte meer die reël as die uitsondering.
Probleme word nie altyd vinnig opgelos nie en terwyl ons wag dat dit opgelos word, probeer ons op ander maniere deur die nag kom.
Ons neem medikasie. Ons tel. Ons haal diep asem. Ons prewel Bybelversies.
Ons bid. Ons verbeel onsself ons is ver weg op ‘n eiland met sagte strande en groen palmbome.
Daar is ‘n magdom redes vir slapeloosheid. Ons gewete is dalk net een van vele.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.




