Hiermee die volgende aflewering in ‘n reeks wat ‘n Noord-Kapenaar oor die lewe saam met ‘n narsistiese ma geskryf het. Lees vorige aflewerings hier.
Een keer per jaar kuier ons as gesin saam by my ouers. Kerstyd. Dan sien ons my broer en skoonsus en die twee niggies. Dit is altyd ‘n goeie vooruitsig en ons kuier heerlik saam, al is dit net vir ‘n paar dae voordat almal moet terugkeer werk toe.
Albei gesinne hou dinge so eenvoudig moontlik – toebroodjies vir die strand en eenbak-geregte vir aandete. Min skottelgoed. Min wasgoed. Baie tyd vir kuier.
Ons twee honde gaan altyd saam. Die oudste is te oud om ‘n week sonder ons by die huis te bly, en die jongste een klim oor die muur wanneer ons nie daar is nie.
Elke jaar herinner ek my ma daaraan dat ons diere se eetgewoontes van haar diere s’n verskil. Ons honde kry nie oorskietkos van die tafel af nie. Net hondepille.
Soms voel ek skuldig as hulle met hul bruin oë my aanstaar wanneer ek die bene in ‘n sakkie toeknoop en in die asblik gooi, maar dit is vir die beste. Wanneer hulle oorskietkos kry, raak hulle verskriklik naar. Die aanpassing is dan ook baie groot wanneer ons terug is by die huis, want dan wil hulle glad nie die hondepille eet nie.
“Moet asseblief nie vir hulle oorskietkos of bene gee nie,” pleit ek jaarliks by my ma.
“Dit is reg, ek verstaan,” sê sy gerusstellend.
Teen die tweede aand vou ek wasgoed in ons kamer op. Die res van die mense kuier in die sitkamer. Ek kyk op toe my skoonsus by die kamer inkom en op die bed kom sit.
Met die intrapslag sien ek iets is nie pluis nie. Sy lyk ongemaklik. Amper verward.
“Wat is fout?” vra ek reguit. Sy kyk weg.
“Kom nou, jy kan my vertel.”
“Jou ma het my gestuur om jou te kom besig hou terwyl sy vir jou honde die oorskietkos gee. Ek is so jammer.”
Ek sug. Dit sal nie help om kwaad te word nie. Dit sal nie help om te probeer keer nie.
“Wat gaan jy doen?” vra sy.
“Niks,” antwoord ek.
Narsiste het geen respek vir hul slagoffers se behoeftes of menings of versoeke nie. Dit word afgelag. Geïgnoreer. In baie gevalle doen hulle die teenoorgestelde. ‘n Slagoffer leer vinnig die pad van die minste weerstand volg. As ‘n slagoffer probeer dat ‘n narsis sy of haar behoeftes respekteer, ontaard dit in ‘n magspeletjie waarteen geen normale mens opgewasse is nie.
Die onsigbare dekmantel wat oor emosionele mishandeling hang, veroorsaak dat slagoffers nie herken of gehelp word nie. Jy moet self probeer oorleef.
Ek skryf oor dié littekens wat ek in my hart ronddra om ‘n fisieke bewys te hê van ‘n lewe wat ek nie wou leef nie. As dit iemand kan help om uit die wurggreep van narsisme weg te breek, soveel beter.



