Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

MENING | Slagveld met jaende trollies brei uit na voortsnellende motorfietsies


Een se dood is die ander se brood – of blaarslaai, aartappels, kaas en enige ander produk wat in ‘n supermark te vinde is en wat so gerieflik binne ‘n kort tydjie by die voordeur afgelaai word.

Toenemende verslaafdheid aan gerief is kenmerkend van die moderne mens, en hierdie aanlyn bestellings op maklik bruikbare apps val so reg in die kraal.

Terwyl die aanlyn koper rustig met ledigheid of take in die afgetelde minute voortgaan totdat die kruideniersware afgelewer word, speel ‘n geveg in onderskeie supermarkte af.

Die slagveld vir die geveg is die winkelgange – van die groente- en vrugte-afdeling deur die slaghuis, bakkery, rakke met olies en pasta; regdeur tot by die toiletware en babaprodukte.

Op hierdie slagveld het die weermag van foon-swaaiende, voortsnellende pakkers ‘n onregverdige voorsprong omdat hulle elke hoek, draai en verpakking ken.

Boonop het hulle ‘n dringende missie soos op die nuutste digitale inkopielys uitgestip, terwyl die minute verbytik.

Net wanneer jy jou hand na ‘n produk op die rak uitsteek, rits ‘n trollie op ‘n wonderbaarlike manier onder jou arm deur. Dié trolliestotende pakkers verander boonop vinniger van rigting as die Griekwas tydens ‘n genotlike hardloopwedstryd.

As iemand wat wel die rit na die supermark aangepak het, voel jy naderhand soos ‘n hindernis in hul missie terwyl irritasie soos sooibrand in jou keel opstoot.

Daar is ook geen tyd vir “jammer” nadat jou trollie met inkopies uit sy wielsporing gestamp is nie.

Die frustrasie stop nie hier nie.

Onverskrokke jaers

Sodra die papiersakke gepak is, verskuif die chaos na die parkeerterrein en strate, waar die afleweraars op hul motorfietsies oorneem – jagende op so ‘n manier dat dit lyk of hulle oudisies vir die rol van ‘n kamikaze-vlieënier aflê.

Hulle is onverskrokke.

Hulle jaag teen sypaadjies op, sny voor motors in, en verkeerstekens is nie vir hulle van toepassing nie.

Die geklater van trolliewiele in winkelgange en die gebrul van motorfietsies is ‘n voortdurende herinnering aan die gejaag na tyd.

Vir pakkers en afleweraars tel elke minuut, want ‘n tugtiging hang oor hul kop sou hulle dit nié betyds haal nie. Vir die inkopieganger raak dit ‘n gejaag om net uit hierdie waansin van een mens se gerief wat ‘n ander se frustrasie is te kom.

Iewers spaar iemand dalk tyd, maar wat is die werklike prys van hierdie transaksie?

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article