Emotional manipulation
Narsiste is berekende individue. FOTO: Amirr Zolfaghari / pexels.com

NARSISME 18 | Só breek jy eindelik uit narsis se wurggreep weg


Hiermee die laaste aflewering in ‘n reeks wat ‘n Noord-Kapenaar oor die lewe saam met ‘n narsistiese ma geskryf het. Lees vorige aflewerings hier.

Narsiste soek slagoffers wat besonderse mense is. Mense met empatie wat vir hul medemens omgee en die beste in hulle sien.

Slagoffers is gewoonlik mooi of aantreklik. Intelligent. Vriendelik. Op ‘n bisarre manier is dit dus ‘n kompliment as ‘n narsis jou uitsoek.

Ná ‘n leeftyd saam met ‘n narsis kon ek, met behulp van ander mense, uit hierdie wurggreep wegbreek.

Daar is bekwame mense met baie kennis van hierdie soort persoonlikheidsversteuring wat bereid is om te help. Dit kan in die vorm van berading of sielkundige behandeling of ander soorte terapie wees. Maak gebruik hiervan.

Narsiste se grootste vrees is om uitgelewer te word; om voor die wêreld as ‘n boelie en ‘n leuenaar uitgewys te word. Juis om hierdie rede isoleer narsiste hul slagoffers. Hulle weet ook dat, wanneer slagoffers eindelik openlik oor hul ondervinding begin praat, min mense hulle sal glo. Dit klink so vergesog, so verdraaid, so onmoontlik dat een mens so sal optree dat ‘n narsis relatief veilig voel.

Breek só weg

Kry ‘n ondersteuningsnetwerk wat empatie met jou het. Hulle hoef nie noodwendig te verstaan waaroor dit gaan nie; hulle moet wel besef dat jy ‘n simpatieke oor nodig het.

Hulle moet daar wees as ‘n slagoffer voel asof hy of sy uitmekaar gaan val.

Hou vas aan jou geloof.

Bemagtig jouself. Leer nuwe dinge. Beoefen nuwe stokperdjies. Hou ‘n lys van komplimente en suksesse by – al is dit hoe klein. Eet gesond. Wees aktief.

Besef dat die probleem nie by jou lê nie. Ons almal het tekortkominge en foute. In hierdie geval is die balans heeltemal uit. Jy gaan vertel word dat alles jou skuld is; moet dit nie glo nie.

Vergewe die narsis. Vergewe jouself dat jy die narsis geglo het toe hy of sy gesê het hulle is lief vir jou en hulle doen dinge ter wille van jou veiligheid of gesondheid.

Maak iewers tyd vir jouself. Besef dat die persoon vir wie jy lief is nie bestaan nie. As jy baie lank hieraan blootgestel word, word jy ongelukkig iemand wat ook eintlik nie bestaan nie.

Maak tyd vir dinge waarvan jy hou. Skep iewers asem. Kom tot rus.

Raak so onafhanklik moontlik van die narsis. Emosioneel. Fisiek. Finansieel. Dit is byna onmoontlik terwyl jy kontak met ‘n narsis het.

‘n Mens hoor dikwels van bejaardes wie se kinders hulle nie meer besoek nie. Die vinger word gewoonlik na die kinders gewys. Wie weet, dalk het die kinders goeie rede om te onttrek. ‘n Kind hou nie sonder rede op om ‘n ouer te ondersteun nie.

‘n Jakkals verander van hare, maar nie van streke nie.

Jou brein gaan, ter wille van oorlewing, vir jou vertel dat dinge gaan verbeter. Dit gaan nie. Baie min narsiste kom tot insig.

Geen mens het die reg om ‘n ander mens se lewe so te vernietig nie.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article