Emotional manipulation
Narsiste is berekende individue. FOTO: Amirr Zolfaghari / pexels.com

NARSISME 16 | Enige aandag is hul kos


Hiermee die volgende aflewering in ‘n reeks wat ‘n Noord-Kapenaar oor die lewe saam met ‘n narsistiese ma geskryf het. Lees vorige aflewerings hier.

Dit is ongeveer ‘n maand voor my pa se afsterwe.

Hy het sy heup gebreek en ‘n gedeeltelike heupvervanging gekry. Daarna is hy na ‘n rehabilitasie-eenheid oorgeplaas.

Die dag nadat hy sy heup gebreek het, het hy my vanuit die hospitaal gebel om my met my verjaardag geluk te wens. Dit is hoe ek van sy val uitgevind het – geen oproep van my ma om ons te laat weet nie.

In die dae ná sy operasie het ek haar geskakel, maar sy het nie geantwoord nie. Daarna het ek met hospitaalpersoneel gepraat wat my op die hoogte van my pa se vordering gebring het.

Byna twee weke nadat hy sy heup gebreek het, het my ma my die eerste keer geskakel. Die enigste doel vir haar oproep was om te hoor of ons geld vir my pa se versorging sou bydra wanneer hy ontslaan word.

Ek het geen geheim van my ontsteltenis gemaak nie. Ek was kwaad. Ek wou weet waarom sy ons nie laat weet het nie. Ek wou weet waarom sy nie my oproepe antwoord nie.

“Jy het net een probleem in hierdie lewe,” het sy my kortgeknip.

Ek het stilgebly en gewag. Sy gaan my in elk geval sê. “Jy wil altyd ‘the centre of attention’ wees,” het sy vurig gesê.

Ek het diep asemgehaal en gesluk. Dit gaan my nie eens in die minste ontstel nie.

Narsiste projekteer hul probleme op hul slagoffers.

Dit wat hulle weet hulle verkeerd doen, is nie eintlik húl probleem nie; dit is hul slagoffers se probleem.

Hulle, wat narsiste is, maak selde ‘n fout. En as hulle die dag ‘n fout maak, neem hulle geen verantwoordelikheid nie.

Ek kan hoor sy raak ongemaklik met my stilswye. Wat het sy verwag? Dat ek myself gaan verdedig?

Narsiste is aandagvrate. Hulle floreer op aandag – positief of negatief, dit maak aan hulle geen verskil nie. Solank hulle die onderwerp van bespreking is, is hulle gelukkig. As hulle jou so ontstel dat jy aan niks anders kan dink nie, is hulle gelukkig.

In hul wêreld bestaan daar net een persoon: die eie ek. Volgens hulle is hulle belangrik. Onvervangbaar. Die beste. Die mooiste. Die slimste.

As jy met iemand buite hul hoorafstand gesels, aanvaar hulle dat jy oor hulle praat – selfs al het jy nie. Hulle moet altyd die middelpunt van aandag wees.

Die onsigbare dekmantel wat oor emosionele mishandeling hang, veroorsaak dat slagoffers nie herken of gehelp word nie. Jy moet self probeer oorleef.

Ek skryf oor hierdie littekens wat ek in my hart ronddra om ‘n fisieke bewys te hê van ‘n lewe wat ek nie wou leef nie. As dit iemand kan help om uit die wurggreep van narsisme weg te breek, soveel beter.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article