“As jy slim kinders wil hê, moet jy met ‘n slim vrou trou,” sê hy. Daar gaan mans wees wat van hom verskil. Daar gaan mans wees wat met hom saamstem. Alle vroue gaan met hom saamstem.
Hy neem hierdie stelling van hom baie ernstig op en dit kan, volgens hom, gestaaf word.
In die eerste paar jare van ‘n kind se lewe bring hulle gewoonlik meer tyd saam met die ma as saam met die pa deur.
Om hulle na die beste van hul vermoë te laat ontwikkel, moet kinders gestimuleer word.
As die ma ‘n slim mens is, is die kans goed dat ‘n kind baie goed gestimuleer gaan word – en eindelik slim sal wees.
Dieselfde geld vir ‘n ma met logika. Sy redenasie maak in ‘n groot mate sin.
Deur die jare het ek op hierdie stelling probeer let.
Dit is nie in alle gevalle van toepassing nie, maar daar is beslis ‘n patroon te bespeur.
Daar is baie faktore wat tot ‘n kind se ontwikkeling bydra. Iemand anders verwys nie net na die slim ma nie, maar ook na die voorbeeld wat vir ‘n kind gestel word.
Woorde wek, maar voorbeelde trek, lui die spreekwoord.
As ‘n kind te midde van baie slegte voorbeelde grootgeword het, gebeur een van twee dinge. Die kind volg dieselfde pad; of die kind besluit om heeltemal die teenoorgestelde pad te volg.
Ongelukkig is dieselfde pad in baie gevalle die bekendste en dus die maklikste pad.
Dalk stem jy met albei die bogenoemde stellings saam. Dalk nie.
Soveel mense, soveel kombinasies van huwelike.
Baie mense het baie slim kinders.
Dit verbeter die kans dat hulle kinders ook slim kinders gaan hê.
Of jy met die stelling saamstem, of nie, waarom die kans waag?
Trou met ‘n slim vrou.
Lees nog rubrieke en meningstukke hier.




