In my jonkwees het July se antwoord by my verbygegaan. Eers noudat ek ouer word, begryp ek meer wat hy bedoel het.
Op die plaas, naby die werkers se huisies, was ‘n bos bloekombome. Groot en reusagtig, en tog met die jare het die wind van tyd tot tyd een omgewaai.
Dit lê vandag nog so. Jare geil gegroei en toe neergevel deur stormwind.
Dit was in daardie bloekombos waar July sommer net kon wegraak.
As kinders het ons gelag vir hierdie Engelse naam en selfs met ‘n mooi kinderhart grappies gemaak: “Hoe gaan dit in Augustus met July?”
Hy was ‘n geduldige ou werker, lui op sy tyd, fluks op sy tyd, ‘n huis vol kinders en ‘n huis vol moeilikheid (sy woorde).
Maar July kon so in die bloekombos wegraak. As pa dan vra wat het hy so lank daar gaan soek, dan was sy antwoord: Die stil wind. Daar waar niks raas nie.
En dan het almal weer gewoon aangegaan.
Nou, jare later, verstaan ek dat July soms die stilte gaan soek het. Of die stil wind, soos hy dit genoem het.
Ek begryp nou meer as toe dat ‘n mens soms wil wegkom van die geraas van baie dinge en net die stil wind wil hoor.
Ek wonder vandag wat July gedink het wanneer hy daar die stilte in die bome gehoor het.
Soms wens ek ek kan so een dag daar gaan sit waar hy die stil wind gehoor het.
Daar waar niks raas nie.
Ons maak ons so moeg met al die raas om ons; ons hou ons so besig met al die hoor van baie dinge.
Dalk was July slim vir sy tyd; dalk het sy werkershart dit verstaan, of sy pa-wees; dalk was hy ook soms net moeg vir alles; maar wanneer hy na die stilte gaan luister het, het dit gelyk of daar vrede in hom is.
Miskien moet ons meer July se vrede in die stilte gaan soek.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.


