Ek sien hom nog so voor my sit die dag toe ek hom besoek op die plaas. Ons het sy vrou die pas afgelope Vrydag begrawe. Die huis is buitengewoon donker (hy het geen gordyn oopgetrek nie) en alles voel sommer ook net donker.
Hy sit in so ‘n ou, hout wiegstoel.
Soveel moeg het ek nog nie in iemand gesien nie. Ek kan my kwalik indink dat dit hy is wat met soveel geduld sy liewe ou vrou oor soveel jare versorg het.
Ek onthou sy geduld en liefde in elke lepel sop wat hy voer.
Ander, ook die kinders, het kom help versorg, maar huis toe gegaan. Hy was maar net altyd daar. Op ‘n stadium het sy tyd te min geword in ‘n dag. Toe laat gaan hy sy voëltjie-boerdery. En toe sterf sy.
Een middag toe is al sy verantwoordelikheid net verby. Daar is niemand om voor sop te maak nie. Sy versorgershand is skielik onnodig.
Dit is toe dat die moegheid hom oorval. Daardie moegheid wat ek daardie middag op die stoel aantref.
Hy vertel van sy moeg, maar ek sien dit sommer. As die buitekant moeg is, so vertel hy, rus ‘n mens. Wat maak ‘n mens wanneer die binnekant so moeg is. Hoe rus ‘n mens die binnekant?
Hy het gedink hy sou dit in die stilte op die plaas kry; hy het dit gaan soek in haar kamer, by mense, by besig wees. Hy weet hy kry rus in die geloof en by die kerk.
Wat maak hy wel met hierdie erge moegheid?
Ek was te dom om te antwoord. Hoe antwoord ek ‘n moeg wat so moeg is?
Twee weke later het ek hom weer gesien. Die moeg-moeg was beter. Hy treur nog. Hoe het hy sy moeg hanteer? Ek verwonder my.
Hy antwoord: deur te gee vir ander. Dit is hoe. Soms as jy moeg is, moet jy gee.
Eerder as soek.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.



