Nadat ek verlede jaar die rubriek oor Internasionale Hondedag geskryf het, het lesers my gekontak om te hoor wanneer ek oor Internasionale Katdag gaan skryf.

Ek het onderneem om dit hierdie jaar te doen. Op 8 Augustus is dit Internasionale Katdag.

Oor die algemeen verkies mense honde bo katte as troeteldiere. Maar as jy eers ‘n kat as troeteldier gehad het, is die kans goed dat jy weer een gaan kry.

Die spreekwoord dat twee mense soos kat en hond verskil (en baklei), is beslis die waarheid.

As viervoetiges het ‘n kat en ‘n hond baie min in gemeen.

‘n Kat is ‘n baie onafhanklike dier.

Jy kan met vakansie gaan en as jy kos en ‘n sandbak en ‘n oop venster vir ‘n kat los, kan die kat ‘n geruime tyd self oorleef.

‘n Kat is baie neusoptrekkerig.

Die sandbak moet skoon genoeg wees. Die kos moet nie net met ander kos vervang word nie.

‘n Kat is ‘n baie versigtige dier.

Hy sal nie gewoonlik iets vreemds eet wat per ongeluk geval het nie. Hy sal ook nie sommer na ‘n vreemdeling toe gaan nie.

Deur die jare was katte die inspirasie agter baie uitdrukkings.

Die kat in die donker knyp.

‘n Kat in die sak koop.

Die kat uit die boom kyk.

Geen kat om sonder handskoene aan te pak nie.

‘n Benoude kat maak benoude spronge.

As die kat weg is, is die muis baas.

Soveel van iets weet as ‘n kat van saffraan.

Gooi die kat in die hoenderhok.

Ook, hy kerm soos ‘n kat oor ‘n derm.

As jy ‘n katliefhebber is, doen op Saterdag 8 Augustus iets spesiaals vir jou troetelkat of ‘n kat in die omgewing.

As jy nie ‘n katliefhebber is nie, wees ‘n bietjie meer geduldig met hierdie unieke diere op hul spesiale dag.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article