TWYFELHOEKIE | Hou doelwit altyd voor oë; vergeet nie jou droom

Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

TWYFELHOEKIE | Hou doelwit altyd voor oë; vergeet nie jou droom


Ons sien mekaar eintlik amper nooit; is baie ver van mekaar af en kommunikasie is moeilik met die dag- en nag-verskille tussen vastelande.

Maar ons het ‘n gemeenskaplike doel. En waar ‘n mens ‘n gemeenskaplike doel het, vorder ‘n mens. Hy skryf ‘n mooi e-pos, verskonend oor die afstand en die min kommunikasie van sy kant, maar hy bevestig sy doel om jong mense op te lei en met hulle bemoeienis te maak.

Ons deel dieselfde droom dat elkeen wat ‘n geleentheid wil hê, dit moet kan kry. Daarom raak sy e-pos my so diep. ‘n Mens kan met ‘n gemeenskaplike doelwit, selfs van verskillende plekke en oor vastelande heen, met beperkte hulpbronne, tog baie bereik.

Soms deins ons terug van ‘n konteks wat dinge moeilik maak, of uitdagings wat ‘n doelwit kan terughou.

Daar is dikwels te veel konflik tussen mense en te min vordering met ‘n projek omdat jou doelwit nie meer jou droom is nie en jy nie meer gedryf word om sukses te behaal nie.

Sukses kom deur doelwitte na te jaag en die doelwitte te leef saam met die ander wat dit saam met jou droom. Al is ‘n mens baie kilometers van mekaar af en al sien ‘n mens mekaar feitlik nooit, kan ons hierdie wêreld verander as ons saam op pad is.

Te dikwels is daar te veel verskonings en te min dryf, te veel huiwering en te min wilskrag.

In hierdie e-pos van so ver oorsee skryf hy dat ons mekaar waarskynlik, menslik gesproke, nie meer gaan sien nie. Maar hy motiveer dat ons met wilskrag en dryfkrag ons doelwitte moet aanhou soek en bereik. Hy moedig aan: Moenie stop of terugdeins van dit waarmee ons besig is.

Hy help jongmense oplei en wil hê dit moet aanhou gebeur.

Ongeag konteks.

Ongeag afstand.

Ongeag uitdagings.

Laat ons die doelwit voor oë hou, skryf hy.

En terwyl ek sy e-pos lees, besef ek: Waar mense saam droom, word drome waar. Sterk doelwitte en medewerkers bereik saam baie.

Lees nog rubrieke en meningstukke hier.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article