Karin Muller
Karin Muller. FOTO: Verskaf

POTPOURRI | Knyp tyd af in besige program en kuier régtig


‘n Vriendin stuur vir my ‘n boodskap: “Kan ons Woensdag-oggend gaan koffie drink? Ek is beskikbaar van 07:10 tot 07:50.”

Ek aanvaar haar uitnodiging. Kort daarna noem ek dit tong-in-die-kies teenoor iemand, in die verbygaan. Sy is ontsteld.

“Ek sou dit glad nie aanvaar het nie,” meen sy.

Baie mense is besiger as wat balans dit toelaat. Om iewers in ‘n besige program tyd af te knyp om vinnig koffie te drink of te hoor hoe dit met iemand gaan is kosbaar.

Ek het onlangs vriende genooi om ons voor werk by ‘n koffiewinkel te ontmoet.

Sy het laat weet dat hulle vroeër by die werk moes wees, maar 06:30 sou moontlik wees. 06:30? In die winter is dit nog voordat die son sy kop uitsteek.

Ek het ‘n oomblik nagedink. Wanneer gaan ons mekaar sien as ons nie hierdie afspraak iewers inpas nie?

Ons het ‘n rapsie langer gekuier as wat beplan was, maar dit het net ons vermoede bevestig – ons behoefte aan kuier en persoonlike geselskap is groter as wat ons besef.

Ons wil graag kuier. Maar soms wil ons wag totdat die regte tyd dit toelaat.

Ons moet nie te moeg wees nie. Nie te depressief wees nie. Dit moet nie te warm of te koud wees nie. Die wind moet nie waai nie. Ons moet op die regte plek en tyd mekaar ontmoet.

In ‘n perfekte wêreld sou dit dalk moontlik wees.

Deesdae kommunikeer ons maklik deur middel van tegnologie. Vergaderings word oor afstande gehou. Verjaardae word oor verskillende kontinente gevier. In die hardloop word daar gevra hoe dit gaan en wanneer ons gaan kuier.

Dit is wanneer iemand jou in die oë kyk en vra hoe dit werklik gaan dat ‘n mens weer besef hoe kosbaar eerstehandse aanraking en kommunikasie is.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article