TWYFELHOEKIE | Waardeer voorspoed wanneer dit aanklop want dit gaan verby

Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

TWYFELHOEKIE | Waardeer voorspoed wanneer dit aanklop want dit gaan verby


Hoe sou dit wees as alles in die lewe geloop het soos ons dit sou wou hê?

Stel jou voor: ‘n wêreld sonder uitdagings, ‘n maklike dag, keer op keer, voorspoed sonder einde en alles loop net reg?

Wanneer ‘n mens na ander mense kyk, voel dit soms of party mense se lewe net afdraande is en joune by tye net opdraande.

Daar kom weke dat ‘n mens so moet sukkel. Asof die een ding ná die ander ding verkeerd gaan.

Soms is dit erger – dit is sommer op een dag of in een uur dat dit voel asof alles te veel word.

Asof die teëspoed ‘n mens ry.

Natuurlik is dit lekker om voorspoed te beleef en te ervaar. Maar dink ons dat die lewe werklik net uit voorspoed kan bestaan? Dit kan tog nie.

En nee, dit is nie ‘n geloofsprobleem nie; en nee, dit is nie ‘n probleem van geluk ja of nee nie.

Geen mens op hierdie aarde beleef voorspoed en net voorspoed nie.

Almal van ons het nodig om sterk gemaak te word en gebrei te word met die teëspoed in jou lewe.

Tog, so het oom Piet daar van Wolmaransstad geleer, soms is dit nodig om te erken dat ‘n mens in die voorspoed ook gebrei word. Die teëspoed leer ‘n mens lesse; voorspoed se lesse lê in wanneer dit minder word.

Dit maak nou nie saak wie ons is, hoe oud ons is, waar ons is nie – dit is lekker wanneer ‘n mens voorspoed beleef.

Maar onthou, jou voorspoed maak jou nie beter as ‘n ander nie, jou voorspoed is ook nie verdienste nie; jou voorspoed gaan ook nie altyd voortduur nie.

Daarom, wanneer die mooi dae daar is en die voorspoed aan jou deur klop, onthou die reël van dankbaarheid.

Onthou om vreugde te vind in die voorspoed van vandag. Geniet die tye van voorspoed. Wees opreg dankbaar vir daardie tye wanneer dit goed gaan.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article