Ek het net in die bediening begin toe jong lidmate vir my ‘n houtbordjie gee vir my studeerkamer. Van daardie bordjies met wyshede op.
In hierdie geval: heldergeel letters op die hout geplak. Hand- en tuisgemaak en met groot liefde gegee. Jare en jare het dit in my studeerkamer gehang.
Die woorde daarop het gelees: “Lewe so dat dominee nie nodig het om op jou begrafnis te jok nie.”
Interessant hoe daardie eenvoudige sinnetjie soveel gesprekke in my studeerkamer tot gevolg gehad het.
Die kernvraag is seker maar: Hoe lewe jy? Dit is eintlik ‘n vraag wat ‘n mens vir jouself moet antwoord.
Twee keer in my lewe het ek die tragiese ding beleef dat wanneer iemand sterf, daar niemand is om hom of haar te begrawe nie.
Sommige mense is alleen, dog omring deur mense; en dan is daar mense wat só lewe dat hulle alleen lewe en alleen sterwe.
Jy kry alleenmense wat geliefd is en jy kry alleenmense wat glad nie geliefd is nie.
Ek dink die week weer daaraan toe ek met iemand werk wat almal rondom hom wegstoot.
Ek kon nie help om te dink: Op sy jare en in sy leefwêreld, wie dink hy gaan daar wees om hom te begrawe eendag?
As ‘n mens almal om jou wegstoot en almal om jou vernietig, as almal van jou wegvlug terwyl jy lewe, wie gaan daar wees wanneer jy die dag sterwe?
Ek het dit ook al andersom beleef: hoe mense – jonk en oud, gesond en siek, ryk en arm – so geliefd is omdat hulle is wie hulle is.
Mooi mense, gawe mense.
Jy kan jou lewe lank mense wegstoot, maar wie gaan oorbly om jou te begrawe?
Die twee gevalle wat ek beleef het, was vir my tragies. Die leegheid en doodsheid daarvan het my so onkant gevang.
As jy vandag moet sterwe, is jou lewe só dat mense armer sal voel sonder jou?
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.



