POTPOURRI | Met presies die regte woord is geen verduideliking nodig nie

Karin Muller
Karin Muller. FOTO: Verskaf

POTPOURRI | Met presies die regte woord is geen verduideliking nodig nie


Hulle was hard aan die werskaf met ‘n baie ernstige deel van hul projek.

Om hiervan ‘n sukses te maak was van kardinale belang. Verslae wat die grondslag hiervan gevorm het, is opgestel en ingehandig. Senior bestuur het weke bestee om hierdie verslae se inhoud haarfyn deur te werk en besluite te neem. Terugvoering is gegee.

“Sy verslag is giggelwekkend,” het die een bestuurder met ‘n baie ernstige uitdrukking gesê.

Almal in die omgewing het hard gekonsentreer om nie te lag nie.

Giggelwekkend.

Dit sê alles. Nie lagwekkend nie. Giggelwekkend.

Van tyd tot tyd slaag iemand daarin om ‘n situasie met net een woord op te som.

Giggelwekkend.

Iemand vertel onlangs vir my dat hy met ‘n projek besig is, maar nie ‘n sekere roete met sy plan wil volg nie.

” ‘n Mens moet nie grond in jou pap gooi nie,” skerts hy.

Jy kry die boodskap. Meer woorde is onnodig.

Dalk is daar woorde of begrippe wat ons gereeld gebruik wat uniek aan ons familie of vriende is.

Iets wat ‘n situasie so goed beskryf dat meer woorde die duidelike prentjie wat by ons opkom, gaan vertroebel.

Dit hoef dalk nie eens woorde te wees wat amptelik in die taal ingesluit is nie, maar dit vorm so deel van ons woordeskat dat ons nie huiwer om dit te gebruik nie.

Ek weet nie wat die uiteinde van die giggelwekkende verslag was nie, maar ek aanvaar dit was nie positief nie.

Nadat ek van hierdie verhaal te hore gekom het, het ek myself in situasies bevind waar daar net een beskrywende woord by my opgekom het: Giggelwekkend.

Watter situasies kom by jou op wat jy as giggelwekkend sal beskryf?

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article