Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

Terwyl ek besig is om te werk aan ‘n paar uitdagings op my tafel kry ek ‘n boodskap van haar. Sy is my ver voor in jare, maar ek het nog altyd ‘n sagte plekkie vir hulle as gesin gehad.

Met haar moeder se dood moes ons oor baie uitdagings gesels. Dit bind mense nogal.

Die boodskap wat ek laataand van haar kry, verander sommer my gedagtes oor die uitdagings op my tafel.

Sy is onlangs deur ‘n knievervanging, maar dit was nie ‘n sukses nie.

Dit was een van daardie enkele uitsonderings waar alles wat kan verkeerd gaan, verkeerd gaan.

Eers verwerp haar liggaam die prostese. Ná 16 keer in en uit die teater was sy terug by stap 1.

Ná enkele maande is hulle gereed om weer te begin. Met dié operasie gaan alles verkeerd.

Na afloop van ‘n paar dae met soveel masjienondersteuning is sy weer gereed om die lewe aan te vat – net om, pas uit die hospitaal, aan die bloei te gaan.

Al die detail gaan ek eers verby.

Die lank en die kort is: Soms word ‘n mens uitgedaag deurdat alles net verkeerd gaan.

Wat ‘n eenvoudige operasie behoort te wees, was in haar geval ‘n uitdaging wat net die vreemdste uitsonderings die een na die ander na vore bring.

So waarby wil ek uitkom? Nie wat haar oorgekom het nie.

Dit is uniek en uiters uitsonderlik. Maar hoe sy dit blymoedig dra.

Sy gebruik hierdie beproewing om te getuig van genade in haar lewe, sy maak blymoedig ‘n verskil in die lewe van die mense om haar.

En sy is ons almal tot voorbeeld hoe ‘n mens onder uitdagings vorentoe kan gaan.

Wanneer ek haar as voorbeeld noem, beskryf ek nie eens die helfte van die uitdagings wat sy deur is nie, maar wat jy moet hoor: hoe sy in geloof, met moed, haar uitdagings dra.

Uitgedaag in die lewe? Onthou: Uitdagings in jou lewe is nie ‘n verskoning om te gaan lê nie.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article