Hiermee die volgende aflewering in ‘n reeks wat ‘n Noord-Kapenaar oor die lewe saam met ‘n narsistiese ma geskryf het. Lees vorige aflewerings hier.
Ek is in my dertigs.
“Sjoe, dit is ‘n baie mooi slaaibak,” sê my ma.
“Ek sou baie graag ook so een wou hê.”
Ek haal ‘n papiertjie en pen uit ‘n kombuislaai; maak ‘n nota van haar opmerking en bêre dit.
‘n Paar maande later is dit haar verjaardag. Ek haal die nota uit die laai en gaan van winkel tot winkel om dieselfde slaaibak vir haar te soek. Dit neem my die grootste deel van die middag. Uiteindelik kry ek een wat presies soos myne lyk.
Ek draai dit toe en laat dit per koerier by haar aflewer – trots op myself vir die moeite wat ek gedoen het om hierdie slaaibak vir haar te kon kry. Ek glo sy gaan baie opgewonde wees.
Later daardie jaar kuier ons by hulle vir Kersfees. Sy haal die spesifieke slaaibak uit die kombuiskas en sit dit voor my neer.
“Dê, ek het dit nooit gebruik nie, gaan ook nie. Jy kan dit gebruik.”
Ek staar na die slaaibak. Ek het nie meer die papiertjie waarop ek my nota gemaak het nie, maar ek is seker dit is so ‘n slaaibak wat sy graag wou hê. Dalk het sy na die vrugtebak verwys?
Ek dink aan soveel jare se geskenke waarmee ek baie moeite gedoen het. Sy het alles vir my teruggegee.
Alles omdat sy dit klaarblyklik nie gebruik nie. Of nooit wou hê nie.
Dit is waarom ek notas begin maak het – om seker te maak ek verstaan haar reg. Ek sou tot die kleur of grootte van die spesifieke iets op die papiertjie neerskribbel.
Om slagoffers hul eie werklikheid en weergawe van gebeure in twyfel te laat trek is iets wat narsiste absoluut bemeester. Slagoffers begin twyfel wat hulle gesê of gedink of gedoen het. Hulle trek hul geheue in twyfel. Narsiste is meesters daarin om verwarring te veroorsaak, selfs binne-in die slagoffer se wese.
Ek het nog ‘n paar jaar notas geskryf en geskenke gekoop en weggestuur. In die terugkry van my geskenke het ek dit vir vriendinne gegee. Waarom sou ek dit hou? Ek het dan reeds iets wat presies soos hierdie lyk.
Later van tyd het ek geld in my ma se bankrekening inbetaal en gevra sy moet iets vir haarself koop. Ek het gehoop sy betaal die geld terug, maar dit het nooit gebeur nie.
Die onsigbare dekmantel wat oor emosionele mishandeling hang, veroorsaak dat slagoffers nie herken of gehelp word nie. Jy moet self probeer oorleef.
Ek skryf oor hierdie littekens wat ek in my hart ronddra om ‘n fisieke bewys te hê van ‘n lewe wat ek nie wou leef nie. As dit iemand kan help om uit die wurggreep van narsisme weg te breek, soveel beter.


