Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

MENING | Daarom het ons nooit tyd in dié tyd van tydbesparing nie


“Ek’s ‘n mier en ek is besig ek is baie baie besig; Kyk hoe vinnig vinnig loop ek heen en weer; Ek het vreeslik vreeslik vreeslik vreeslik vreeslik baie werk; Vat weg jou voet en moenie vir my steur…”

Só sing Doris Brasch en Dawie Couzyn die liedjie van Betty Misheiker wat in 1974 op die langspeelplaat “Sal jy dit glo?” opgeneem is. Terloops, Misheiker het meer as 400 kinderliedjies geskryf, insluitend “Ek’s ‘n dapper muis”, “Eensame krokodil” en “Die lappop”.

Sal jy dit glo?
Die omslag van die langspelerplaat, “Sal jy dit glo?”

Die jaartal waarin dié besige mier-liedjie opgeneem is, strek dekades terug. Maar gesels nou met enigeen, of vra waarom ‘n taak nog nie afgehandel is nie, is die antwoord: “Ek is baie baie besig…” in mieretaal, of in meer hedendaagse woorde: “Dis ‘n malhuis. Ek vat nie grond nie.”

‘n Mens sou reken dat tyd in die moderne eeu volop is want bykans elke produk of diens beweer dat tyd gespaar word deur dit aan te skaf. Ons ruimtes is met tydbesparende toestelle gevul.

Maar waar is daardie tyd wat ons so spaar?

Volgens bronne is mense eindeloos besig omdat moderne tegnologie meer take skep en die lyn tussen werk en ontspan vervaag. Omdat rekenaarprogramme of apps vir jou werk ook op jou selfoon is, is jy 24 uur per dag aan jou werk gekoppel wat jou huis toe, etenstafel toe, en slaapkamer toe volg. Boonop, vertel die bronne, wanneer tegnologie werk vinniger of makliker maak, word meer uitset vereis. Te danke aan tegnologie voltooi jy nou ‘n taak in net tien minute, maar nou kry jy vier keer meer take.

Dan is daar Parkinson se Wet wat beweer dat werk uitbrei om die tyd wat jy het, te vul. As ‘n taak een uur neem, maar jy die hele dag het, bestee jy dikwels die hele dag om dit te doen. Hierdie wet lei glo dikwels tot uitstel en ondoeltreffendheid aangesien take meer kompleks word wanneer meer tyd daaraan bestee word.

Ook is sosiale media en apps ontwerp om jou fokus te steel. Hul voortdurende afleidings verbreek jou konsentrasie, en veroorsaak dat basiese take baie langer neem om af te handel.

Om alles te kroon, verhoog tegnologie die verwagting van reaksie: Mense verwag dadelike antwoorde en omdat sosiale media jou vertel dat jy ‘n foutlose huis en perfek saamgestelde lewe moet hê, het jy eindelose take.

Indien jy nie soos die lappop op die ashoop wil voel nie, wees dapperder as die dapper muis: Skakel die nie-noodsaaklike boodskapkennisgewings op jou foon af. Hou op om werksboodskappe ná ‘n sekere tyd buite werksure na te gaan. Doen een ding op ‘n slag want om heeltyd tussen take te wissel, mors kosbare geestelike energie.

En jy is immers nie ‘n mier nie.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article