” ‘Why did you do all this for me?’ he asked. ‘I don’t deserve it. I’ve never done anything for you.’ ‘You have been my friend,’ replied Charlotte. ‘That in itself is a tremendous thing.” – E.B. White, Charlotte’s Web
Dit is asof ons nog gister gepraat het, maar ons het nie.
Ook nie eergister nie. Ook nie verlede jaar nie. Of die jaar tevore.
Maar toe julle hier aankom, het die tyd tussenin vervaag. Ons het mekaar styf vasgedruk en die jare tussenin het weggesmelt.
Dit is meer as 20 jaar gelede dat ons mekaar anderkant die see ontmoet het. Toe nog jonk en vreesloos. Saamgevoeg deur ‘n gemeenskaplike deler, iemand wat lankal nie meer in ons lewe is nie.
Maar julle is.
Ons stap die huis geselsend binne, sit die tasse neer, haal die wynglase uit. Val terug in die stoelkussings op die stoep. Sonlig gooi ‘n goue streep oor ons samesyn.
Ons lag en onthou, kan nie glo wat ons alles doerdie tyd aangevang het nie. Haal in oor kinders, honde, ouers en die lewe.
Jon Katz skryf hy het al alles oor vriendskap geleer.
“If I’ve learned anything about friendship, it’s to hang in, stay connected, fight for them, and let them fight for you. Don’t walk away, don’t be distracted, don’t be too busy or tired, don’t take them for granted. Friends are part of the glue that holds life and faith together.
“Powerful stuff.”
In ‘n era dat ons “vriende” met die klik van ‘n knoppie op die sosiale media byvoeg, is dit maklik om die ware betekenis van die woord te vergeet.
Ware vriendskap word gemeet aan die stilte wat gemaklik voel, die gedeelde lae van ‘n wete, en die gerusstelling dat daar iemand is wat jou foute ken, maar steeds dink jy is fantasties.
Geseënd is ons.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.





