LEWENDE WATER | Gee die jeug hoop – luister opnuut na Jesus se woorde

Illustrasie van lewende water vir geestelike rubriek.
Lewende water, waar rus en stilte is. FOTO: Helena Barnard

LEWENDE WATER | Gee die jeug hoop – luister opnuut na Jesus se woorde


Ons het die week Jeugdag gevier. Net mooi 50 jaar ná die bloedige studente-opstande van 1976. Dit is 50 jaar later en steeds ervaar ons jongmense in die Noord-Kaap groot uitdagings.

Werkloosheid onder die jeug is hoog. Baie jongmense woon in afgeleë gebiede waar geleenthede vir verdere opleiding en werk beperk is. Armoede plaas druk op gesinne.

Sommige jongmense worstel met dwelmmisbruik, alkoholafhanklikheid, gesinsgeweld, en die verlies aan hoop vir die toekoms.

Ander moet lang afstande aflê om skole of opleidingsinstellings te bereik.

Die digitale wêreld bied nuwe moontlikhede, maar terselfdertyd is daar steeds gemeenskappe waar toegang tot tegnologie en die internet beperk is.

Toe die dissipels op ‘n keer (Matteus 18:1) met mekaar redeneer oor wie die grootste in die koninkryk van God is, verras Jesus hulle. Hy gee nie ‘n les oor mag of prestasie nie.

Hy plaas ‘n kind in die middel van die groep.

Kinders, wat in die destydse samelewing die minste aansien gehad het, word deur Jesus die middelpunt van die gesprek gemaak. Verder waarsku Jesus dat niemand ‘n struikelblok vir die kinders mag wees nie.

Ons woorde, ons optrede en ons besluite moet jongmense nader aan Christus bring, nie verder van Hom af nie.

Teen hierdie agtergrond van die omstandighede in ons land hoor ons Jesus se woorde opnuut.

Hy sê nie dat jongmense eers belangrik word wanneer hulle suksesvol is nie. Hy plaas hulle nou reeds in die middel.

Hy herinner ons daaraan dat elke jong mens, ongeag sy of haar omstandighede, waardevol is in God se oë.

Daarom is Jeugdag meer as ‘n herinnering aan die opstand van 1976.

Dit is ook ‘n oproep aan die kerk en gemeenskap om jongmense ernstig te ag. Om na hul stories te luister. Om hulle te mentor. Om geleenthede vir groei te skep.

Om hulle te help ontdek dat hul identiteit nie bepaal word deur werkloosheid, armoede of mislukkings nie, maar deur God se liefde.

Mag ons as geloofsgemeenskappe saamwerk om te verseker dat die jeug van die Noord-Kaap nie aan die kantlyn staan nie, maar eerder die hoop, geloof en toekoms van ons gemeenskappe help vorm.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article