Dit was ‘n gestoei toe oom Daan die windpomp op die plaas opgerig het. Die uitdagings was meer as gewoonlik. Net mooi alles het skeefgeloop. Hy het egter nie opgegee nie en ná dae se gesukkel is die windpomp staangemaak en het dit begin werk. Oom Daan was gedaan, maar tevrede.
Met dagbreek die volgende oggend was tannie Hetta merkbaar ongelukkig. Sy kon dit nie wegsteek nie, al wou sy. Dit het Oom Daan ‘n rukkie geneem om te besef wat die oorsprong van haar ongelukkigheid was.
Hy het haar verjaardag vergeet.
Hy het ‘n oomblik nagedink en toe verduidelik dat hy nie haar ongelukkigheid verstaan nie – hy het dan immers vir haar verjaardag ‘n windpomp gekoop en opgerig.
Met oom Daan se verjaardag ‘n maand later het tannie Hetta vir hom ses nageregbakkies as geskenk gegee.
‘n Paar jaar gelede het ‘n goeie vriend my ‘n maand ná my verjaardag gebel.
“Ek het nie jou verjaardag vergeet nie,” het hy verduidelik. “Ek wou net seker maak ek is die laaste een wat jou gelukwens.”
Soms beland ‘n mens in ‘n penarie waarop jy nie voorbereid was nie. Jy het datums omgeruil. Jy het dalk besig geraak en tred met tyd verloor. Dit was nie doelbewus nie, maar helaas, dit het gebeur.
Soms is ‘n mens gelukkig en kan jou brein vinnig genoeg iets uitdink om jou uit die situasie te red. Ander kere moet jy goedsmoeds erken dat jy skuldig is.
Hoe gereeld moet jou brein jou uithelp as jy, in alle eerlikheid, onverwags in ‘n penarie beland het? Of moet jy maar net skuld erken?
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.




