Op Jeugdag word die Rooyma versigtig wakker en voel eers wat elke ledemaat se kondisie is alvorens sy haar oë of mond oopmaak.
Die vorige dag het sy so pap soos ‘n geflopte melktert gevoel en kort ná middagete is zombie-sy bed toe gejaag. Ondanks die 11-jarige herdenking van haar MS-diagnose bly die siekte steeds onvoorspelbaar. Party dae kan ‘n mens berge versit; ander dae moet jy noodgedwonge versit word.
Die dag van 16 Junie is lank vooruit beplan as een om ‘n uitdaging aan te durf: die Monkey Mountain-roete wat tussen Carletonville en Fochville strek en die R510 kruis. Drie maande tevore het die Rooyouers en vriende die pad eenrigting aangedurf.
Om hierdie keer te bepaal of byna-40 steeds as jeug tel, is besluit om die roete heen én weer per tandem aan te pak – nogal Rooyma se voorstel.
Maar dit was ‘n doelwit waaroor Rooyma haarself deur die dag heen herhaaldelik verwens het, aangesien haar kuite en longe gebrand en haar uithouvermoë uitgedaag is. Sy het selfs ryloop oorweeg toe die egpaar die hewige helling langs die Geel Piesang moes uitstap. Die 50 kilometer met ‘n 625 meter klim en 611 meter daling, het selfbejammering én selfverwyt hard laat praat.
Tuis wys Rooypa in sy wysheid ‘n TikTok-video van ‘n dokter wat haarself as ‘n “veroudering-ekspert” definieer. Volgens haar ervaring is die 80-jariges wat die beste fisiek én geestelik verouder dié wat gemaksugtigheid vermy. Diegene wat altyd ‘n volgende mylpaal wil bereik – of dit nou ‘n nuwe taal of vaardigheid is – is glo die beste daaraan toe.
Rooyma wil haarself amper op die skouer klop, want die volgende tandem-ry-mylpaal was reeds gestel nog voordat haar voete van die pedale af was: 75 kilometer, oor drie maande. Rooyma wens wel heimlik dat die voortvarendheid van die jeug sal seëvier ondanks haar lyf se krete om gemak voorop te stel.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.





