Herinnering kaktus-taai.
Herinnering kaktus-taai. FOTO: Unsplash / Barthelemy Rigaud

KAMEELDORING | Herinnering kaktus-taai


Rooyma se boervrou-vriendin het Mzansi vir die States verruil danksy ‘n H-2A-visum. Sy sou nege maande uitstedig wees. Voor die halfpadmerk kom die skoknuus: Sy gaan nie weer terugkeer nie.

Haar 18-uur-skof laat min tyd vir ‘n WhatsApp-gesprek. Foto’s word al hoe minder gedeel en die vriendskap verdroog soos roosblare in die son. Die herinneringe taan.

By die basaar is sy nie daar vir die jaarlikse onssie nie. Ná kerk staan sy nie tussen die ander gemeentelede soos meerkatte in die skraal sonnetjie nie.

Bykans niemand van buite die dorp stop meer by die pastorie vir ‘n “ek-is-in-die-dorp”-kuiertjie nie.

Die roosboom wat sy vir Rooypa gegee het, dra nie in die winter sy appelkoosrose nie.

In die koudste van die winter verkyk Rooyma haar aan die diepgroen van ‘n turksvyblaar.

Sy neem ‘n foto daarvan en bars so byna in trane uit.

Dit was ‘n geskenk van die boervrou.

Boervrou – eerder ‘n plaas-entrepreneur en nie bloot boer se vrou nie – het nooit met leë hande gekom nie. Ook nie sonder ‘n onbaatsugtige oor of ‘n welkome skouer nie.

Tussen die bekers koffie het die gesprekke gewentel van houtwerk en oefenwenke tot toekomsdrome en selfs bek-en-klouseer. Daar was altyd iets om te vertel, iets om oor te lag, iets om te deel.

Min sou Rooyma weet dat daar ‘n einde aan hierdie “glitters” sou kom.

ChatGPT adviseer: “Onthou die goeie oomblikke en waardeer die mense wat steeds in jou binnekring is.”

Rooyma is opnuut dankbaar.

Dankbaar vir die vriendin wat steeds ‘n koppie tee aanbied, haar in ‘n penarie laat sit en glo dat Rooyma haar kan help.

Dankbaar vir die een wat op kort kennisgewing wil kom inloer.

Want dalk is dit wat ‘n kaktus haar leer: Nie alles wat ver van jou af groei, verdor omdat dit vergeet is nie.

Party dinge oorleef net op ‘n ander plek.

En party vriendskappe laat, selfs nadat hulle verdwyn het, ‘n groen blaartjie agter wat jou herinner hoe mooi dit was om hulle te hê.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article