Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

MENING | ‘Waar is julle nou, as ek die matrieksertifikaat wil wys?’


“So, julle grootmense wat ons youth gesê het education is alles, waar is julle nou?

“Waar is julle noudat ek met groot trane en baie werk matriek geskryf het? Julle het gesê education is alles; daarsonder kan mens nie.

“Maar hier sit ek, en sy, en hy, en die klomp by die huis en langsaan ook. Ons kan almal daardie matrieksertifikaat uithaal en wys.

“Maar dit lyk of julle wegkyk as ons dit wil wys. Julle monde is nou toe om ons te sê hoe nou.

“Daardie sertifikaat het my nog niks gebring nie. Nie plek by die kollege of universiteit nie; nie plek by die til nie, of by die EPWP’s nie, ook nie op die aslorrie nie.

“Ons hoor van entrepreneurship. Ons hoor net. Ons sien nie. Ons hoor van youth wat leer kos maak. Klere maak. Meubels maak. Huise bou. Tuinwerk. Hairdressing. Wasmasjiene en stovetops regmaak. Karre regmaak. Maar nie hier by ons nie.

“Ons sien julle grootmense in groot karre ry. Julle skoene blink en julle wange ook. Julle huise is toegebou, seker a big screen teen die muur. Julle praat-praat die heeltyd op die selfoon. Julle sien ons nie. Julle kyk nie terug waar julle ons agtergelos het nie.”

Dra by om hoop te skep

Volgens Statistieke Suid-Afrika was die nasionale jeugwerkloosheidsyfer in die eerste kwartaal van vanjaar 45,8% vir 15- tot 34-jariges.

Diegene tussen 15 en 24 jaar het die hoogste werkloosheidsyfer van 60,9%, terwyl 40,6% van die 25- tot 34-jariges werkloos is.

Kommerwekkend is die groeiende aantal 15- tot 34-jariges wat nie in diens, onderwys of opleiding is nie – statistieke toon aan dat meer as vier uit tien van dié groepering hier ingedeel kan word.

Verskeie sektore kan waarskynlik bydra om die werkloosheidsyfer te verlaag, en om hoop by die jeug te skep.

Volgens Ipeleng Mabusela, hoofbeampte van Retail Motor Industry Organisation (RMI), is Suid-Afrika se jeugwerkloosheidskrisis en die motorsektor se tekort aan vakmanne saam ‘n kragtige geleentheid.

In ‘n artikel op businesstech.co.za sê Mabusela die ruggraat van ons motor- en vervoersektore – meganici, elektrisiëns, paneelkloppers en tegnici – verouder vinnig, terwyl te min jongmense intree om hulle te vervang.

Baie talentvolle jongmense is onbewus van loopbaangeleenthede wat beskikbaar is.

Dit is belangrik om persepsies rondom loopbane te verander, en jeugdiges – manlik en vroulik – hierin te lei, sê die RMI.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article