KAMEELDORING | Kos nie net brandstof nie – dit vertroos; dis deel van vieringe

Kos vertroos, maar dit is ook deel van enige viering.
Kos vertroos, maar dit is ook deel van enige viering. FOTO: Unsplash / Spencer Davis

KAMEELDORING | Kos nie net brandstof nie – dit vertroos; dis deel van vieringe


“I have made a lot of mistakes falling in love, and regretted most of them, but never the potatoes that went with them.” – Nora Ephron

Die koskas het ‘n geluidlose, verleidelike stem. ‘n Geneurie wat my binneste altyd hoor. Voor ek my kan kry, staan ek voor die kas en yskas.

Het ek die een voet voor die ander gesit om hier te kom? Ek, wat nou-nou nog voor die rekenaar gesit het. Dis asof ek met ‘n moonwalk hier gekom het. Aangekom sonder om te besef ek loop.

Dis die sjokolade, die biltong, die neute, die avokado’s, die beskuitjies met die tuisgemaakte konfyt, smere en blatjang wat geroep het.

Dis nie net verbeelding nie; daar is ‘n fassinerende wetenskap agter die diepe gevoel van tevredenheid en geluk wat lekker kos inhou.

Kos is nie net brandstof nie, glo ek, dis ‘n direkte snelweg na die siel en emosies.

Ek het gaan oplees. Wanneer ons iets lekkers eet, skop die brein oor na die hoogste rat. Die kombinasie van goeie geure, teksture en aromas stimuleer die vrystelling van dopamien, die brein se eie gelukshormoon. Dieselfde chemiese stof wat vrygestel word wanneer ons presteer of verlief raak. En dis ‘n lekker gevoel, as ek reg onthou, daardie eerste verliefdheid.

Kos bring nostalgie en herinneringe. My pa se braaivleis en beskuit, my ouma se varsgebakte brood en oondgebakte hoender, my ma se Sondag-roast en gebakte aartappels, my tweede mammie se slap-tjips, my tannie se hoenderpastei, haar suster se sjokoladekoek, en nog ‘n suster se eiervrugkerrie.

Dit was die tye van geborgenheid, vertroosting, veiligheid, samesyn en bederf.

Kos vertroos selfs in hartseertye, en vier ook saam.

Lekker eet dwing jou om terug te sit, die oomblik te leef. Om met waardering te proe, kou en geniet, is herstellende meditasie en dinktyd.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article