Karin Muller
Karin Muller. FOTO: Verskaf

POTPOURRI | Watter soort pasta is jy?


Die winkel is vol en die ry is lank. Almal wag geduldig. Die persoon voor my haal sy selfoon uit sy broeksak en bel iemand.

Hy praat hard en duidelik. Hy maak verskoning dat hy nie die middag se vergadering kan bywoon nie.

“Daar is dood in die familie,” sê hy. “Ek koop nou juis ‘n paar goedjies vir die pad. Ek is jammer hieroor, maar jy weet ek is nie ‘two-minute noodle’ nie.”

Ek probeer hard om nie te glimlag nie.

‘n Mens verstaan presies wat hy sê. Daar is mense wat heeltyd van plan verander. Voortdurend. Sonder ophou.

Hulle sê nou een ding en wanneer jy weer met hulle praat, sê hulle heeltemal iets anders.

Hulle het ‘n magdom planne, waarvan die meeste net praatjies is. Hierdie planne kom selde tot iets.

Hulle verbind hulle nie tot iets nie. Hulle wil. Hulle sou graag wou. Hulle sê hulle gaan.

Hulle belowe hulle sal. Maar as daar om die tafel gesit word of die projek van die grond af moet kom, skitter hulle in hul afwesigheid.

Daar het iets voorgeval. En weer voorgeval. En weer voorgeval.

Hulle kan nie hulle tot iets verbind nie.

Die meeste entrepreneurs het baie planne. Baie van hierdie planne kom nie van die grond af nie. Die wat wel van die grond af kom is in baie gevalle ‘n sukses.

Buitestanders sien gewoonlik net die planne wat gewerk het, nie die magdom planne wat nie gewerk het nie.

Deursettingsvermoë word onderskat.

As iemand my sou vra om ons met kos te vergelyk, weet ek nie of pasta my eerste gedagte sou wees nie. As ons wel met pasta vergelyk word, hoop ek die meeste mense is die duursame pasta wat ‘n ruk moet kook voordat dit sag is.

Nie “two-minute noodles” nie.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article