“I grabbed a pile of dust, and holding it up, foolishly asked for as many birthdays as the grains of dust, I forgot to ask that they be years of youth.” – Ovid, Metamorphoses
Verjaardae moet ‘n mens vonkel en vonkelwyn saam met vriende drink. Finish en klaar. Want daar is iets besonders aan ‘n verjaardag, nie net oor dit geskenke mag inhou nie, maar omdat dit die een dag van die jaar is waarop die wêreld, vir ‘n oomblik, om jou draai.
Boodskappe stroom in van mense van wie jy nie altyd gereeld hoor nie: ‘n ou skoolvriend, ‘n tannie van ver, ‘n kollega wat onthou het.
Elke boodskap is soos ‘n klein kaartjie wat sê: “Ek dink aan jou vandag.”
Dit is die klein oomblikke wat verjaardae spesiaal maak. Nie die koek nie, nie die geskenke nie, hoewel dit lekker is, maar die wete dat jy, vir minstens een dag, in soveel harte en gedagtes teenwoordig is.
In ‘n wêreld waar ons almal so besig is met ons eie lewe is dit vertroostend om te weet dat mense steeds tyd maak om te onthou, te bel, of net ‘n kort boodskappie te stuur.
Ons mensdom raak te negatief, ek wens elke dag kan stilstaan soos ‘n verjaardag.
Verjaardae herinner aan hoeveel liefde rondom ons is, al sien jy dit nie altyd raak nie.
Jy kyk terug na die jaar wat verby is, en vorentoe met hoop en dankbaarheid.
Dit is ‘n dag om te vier dat jy hier is, dat jy bestaan, en dat jou bestaan vir ander iets beteken.
Dis een van die min geleenthede waar jy toegelaat word om jouself in die middelpunt te plaas, sonder skuldgevoelens.
Maar dan ook, meer belangrik, vier elke ander dag soos iemand anders se verjaardag. Gee ander mense die liefde, aandag en die waardering wat hulle nodig het.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.





