“We shall never have a world without errors, but the world that we do have can be a beautiful place if we just had the willingness to correct our errors.” – Abhijit Naskar, Making Britain Civilized: How to Gain Readmission to The Human Race
Niemand ontsnap dit nie. Die depressie nadat jy ‘n fout gemaak het.
Elke mens wat ooit iets probeer het, het al foute gemaak. Sommige klein, sommige wat nagte se slaap kos. Die geheim lê in die oplossing van die probleem, en wat ons vir onsself sê.
Die brein is ‘n meester van herhaling. ‘n Enkele verkeerde besluit kan eindeloos ‘n marmotwiel in die gedagtes laat draai: “Hoe kon ek so onnosel wees? Hoekom het ek nie meer gedink nie?”
Wat in die innerlike omgaan, kan tot ‘n swaar, uitputtende gevoel lei. Die gevoel van waardeloosheid wat baie mense as ‘n soort depressie beskryf.
Ek probeer dit nie as ‘n swakheid sien nie. Dit is miskien ‘n natuurlike, hoewel oordrewe, reaksie op ‘n bedreiging.
Ek weet ek moet asemhaal en dink. Herken die verskil tussen ‘n fout en identiteit. Jy hét ‘n fout gemaak; jy ís nie die fout nie. Klink eenvoudig nè; nie maklik nie, maar dit kan verandering meebring.
Vra: “Wat leer dit my?” in plaas van “Waarom is ek so sleg?”
Jy is jou eie strengste kritikus. Jy sal mos ‘n vriend waarskynlik help met ‘n flater, nie beledig nie. Bied jouself dieselfde genade.
Doen iets prakties om die probleem op te los. Maak kos, gaan stap. Gee jouself toestemming om aan te beweeg. Vra vergifnis.
Groei is onmoontlik sonder foute. Foute plavei die pad na beter optrede.
As die gemoed swaar bly, praat; vertel iemand daarvan. Selfs vir jou hond. Net om dit uit jou lyf te kry voordat dit in sepsis ontwikkel. Jy hoef dit nie alleen te dra nie.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.





