Ná weke se oorweging het die gedagte aan ’n moontlike belastingmeevallertjie die deurslag gegee – Rooypa gaan tog sy tweede tatoeëermerk kry. Dalk was dit die komende 4-0 of ’n soort midleefkatarsis wat tot sy besluit bygedra het om ’n tweede tat 11 jaar ná sy eerste inksel te kry.
Sy eerste permanente prentjie is ’n swaard, wat ook as ’n kruis dien, bokant sy gewrig. Dié is aangebring kort ná ’n byna-ewigheid-in-oomblik.
Die jongste illustrasie, ’n skild met ’n draak en ’n leeu wat mekaar die stryd aansê. ChatGPT kon die beeld vooraf tjoeftjaf op sy linkerskouer nestel, maar in die regte lewe het dit vyf uur se meestershand geneem.
Die einste hoe-sal-dit-lyk-dag het Rooyma handjie bygesit toe die man van die pastorie sy hare wou tem. Hoewel sy vrou trots was op haar haarkappervernuf, het die foto-voorstelling waarin Rooypa sy spiere in die spieël gebult het om as verwysing vir die tatoevoorstelling te neem, egter happe in sy kapsel gewys.
Natuurlik was dié flater eers laataand ná ’n kerkraadsvergadering, met ’n naderbykyk, opmerklik.
“Dum spiro spero” (vertaal as “waar daar lewe is, is hoop”) lees die sirkelskild se Latynse omboorsel. Heel gepas vir hare wat se hape in ’n zigzag-formaat yler uitstaan teen die langer, gryswordende, hare wat (genadiglik) weer sal groei – ’n feniks wat verrys uit die as.
Ironies het die laataand op die inkdag nes die proefbeeldaand waarheid ontbloot toe ’n predikantkollega van Rooypa op ’n kort video van die tatoe-in-wording tong-in-die-kies kommentaar lewer; “dom spiere in ’n Speedo”.
Die verwronge, verAfrikaanste spelling maak dit verbasend maklik om die outaaluitdrukking van “Dum spiro spero” te onthou.
Inderdaad, daar waar lewe is, is hoop – vir ’n kapsel om te herstel, ’n draak om getem te word en ’n leeu wat veroudering (én Movember se prostaatkankerbewustheidsmaand in ‘n pers Speedo) met durf aanpak.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.




