Hiermee die volgende aflewering in ‘n reeks wat ‘n Noord-Kapenaar oor die lewe saam met ‘n narsistiese ma geskryf het. Lees vorige aflewerings hier.
Ek is getroud en ons het twee dierbare kinders.
Soos die meeste ma’s probeer ek al die punte bymekaar hou. Hier en daar maak ek tyd vir een van my stokperdjies – skryf. Niks besonders nie, sommer net om my gedagtes neer te pen.
Op laerskool het ek ‘n onderwyseres gehad wat my amper oortuig het dat daar dalk ‘n groot skryfskat in my binneste versteek is. Op hoërskool het my Afrikaanse onderwysers baie moeite met my gedoen omdat sy in my verskuilde talent geglo het. In matriek het ek selfs ‘n gedig of twee geskryf. Ná matriek het ek vir eers my skryfpen neergesit.
My matriekuitslae het een onderskeiding opgelewer: Afrikaans. Toe ons ná die Kersvakansie by die huis kom, was daar notas aan my spieël. Nie ‘n papiertjie wat aan my spieël vasgesit is nie; nee, daar is met lipstiffie op my spieël geskryf. Ek het ‘n kwart van my enigste duursame, langblywende lipstiffie op my spieëltafel gekry en my broer se skrif herken.
Die boodskappe was van mense wat geskakel het om my met my onderskeiding geluk te wens.
‘n Paar dekades later het ek eendag gaan sit en ‘n gedig neergepen. Ek het dit vir ‘n skrywersvriend gestuur en vir my man gegee om te lees. Albei se reaksie was positief. Ek het moed bymekaargeskraap en in een jaar vir drie kompetisies in drie verskillende genres ingeskryf.
In al drie genres het ek plek as finalis behaal.
Ná die laaste aankondiging van my as finalis het ek van my skryfwerk vir my ouers gestuur.
Toe ons weer telefonies gesels, sê my ma: “Dankie vir die goed wat jy gestuur het. Ons buurvrou dink jy het talent.
“Ek weet nie hoe jy jou onderskeiding in Afrikaans in matriek gekry het nie, want jy kan nie eens ‘stuitjie’ spel nie.”
Sy het so gelag dat ek moes wag om die gesprek voort te sit.
Om verskeie redes walg slagoffers se prestasies narsiste. Narsiste blink gewoonlik nie in iets uit nie, daarom mag hul slagoffers ook nie in iets uitblink nie.
Die slagoffer gaan dalk onafhanklik raak of aandag aan iets en iemand anders gee – wat nie geduld sal word nie.
Narsiste breek slagoffers af dat daar niks van hul eie ek oorbly nie.
Om ‘n slagoffer se sterkpunte af te breek is ‘n goeie begin.
Die onsigbare dekmantel wat oor emosionele mishandeling hang, veroorsaak dat slagoffers nie herken of gehelp word nie. Jy moet self probeer oorleef.
Ek skryf oor hierdie littekens wat ek in my hart ronddra om ‘n fisieke bewys te hê van ‘n lewe wat ek nie wou leef nie.
As dit iemand kan help om uit die wurggreep van narsisme weg te breek, soveel beter.


