My gehalte-geselstyd met ouma Mart was vakansiekuiers wanneer sy pas haar middagstories geluister het.
Sy het vir ons tee gemaak, sy het die radio aangesit vir die middagvervolgverhaal en dan het sy sit en hekel.
Vir my sou sy ‘n blik kraletjies in ‘n skinkbord uitgooi om mee te speel en dan ná die vervolgverhaal sou ons gesels.
Van daardie gesprekke het ‘n permanente indruk op my gemaak.
Miskien oor die voorreg om so jonk aan ouma se knie te kan sit en luister, miskien haar wysheid in eenvoud, dalk was dit haar opregtheid, maar dit is asof ek haar nou nog hoor hoe sy sit en gesels oor die lewe.
Oor die dood. Oor siekte.
Ja, ook die kanker waaraan sy oorlede is.
Oor die Bybel wat sy vir elke kleinkind gegee het. Ook oor seisoene.
Vandag praat baie mense baie maklik oor seisoene wat kom en gaan.
Dit is eintlik ‘n algemene uitdrukking dat iemand se een seisoen afsluit en ‘n nuwe seisoen begin.
Ek onthou ouma se gesprek oor seisoene. Ons het gepraat oor die winter en oor die koue.
Sy het daardie dag vertel hoe party mense so baie aan die somer dink dat hulle nie die mooi van die winter kan omhels nie.
Dit was vir haar so vanselfsprekend.
Ná somer kom daar weer ‘n winter en ná ‘n winter weer ‘n somer.
Wat sy wel my oë voor oopgemaak het daardie dag is dat ‘n mens nie die hele winter moet wag vir die somer nie.
Dan gaan die mooi van die winter by jou verby.
Haar spesifieke woorde was dat ‘n mens ook moet leer om die winter te omhels. Met winter-mooi en winter-voorregte.
As ‘n mens glo in seisoene moet jy dit nie net sê nie.
Dis asof party mense praat van seisoene maar net die somer wil hê.
Ouma Mart het geleer, omhels elke seisoen vir wat dit bied.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.



