Terwyl haar pa op sy sterfbed gelê het, het ‘n plaaslike predikant hom gereeld besoek. Ná ‘n paar beroetes kon hy skaars praat en die een kant van sy liggaam was verlam.
Hy het dag vir dag op die naat van sy rug gelê en met toe oë na die plafon gestaar. Hy kon egter nog goed hoor en alles verstaan wat vir hom gesê is.
Op hierdie betrokke dag het die predikant, soos die vorige paar weke, hom weer besoek.
Die pasiënt se gesondheid was besig om vinnig agteruit te gaan en die predikant het gevra of hy vir hom ‘n gebed kan doen. Die pasiënt het baie stadig sy kop geknik.
Ná die gebed het hy saggies geprewel: “Dankie”.
Hy is dieselfde dag oorlede, sonder om weer ‘n woord te uiter.
Agterna het die predikant ‘n boodskap vir sy dogter gestuur om te sê: “Dit was jou pa se laaste woord: Dankie. Dit is ‘n wonderlike getuienis van sy lewe.”
Hierdie verhaal het my oor ons laaste woorde laat nadink.
Wat gaan die laaste woorde wees wat oor ons lippe gaan kom voordat ons, voorbereid of onverwags, tot sterwe kom?
Gaan ons laaste woorde iets wees wat ons in ‘n oomblik van woede kwytgeraak het?
Gaan dit iets liefdevols wees?
Gaan dit iets wees wat ons familie en vriende as positief gaan onthou?
In die verloop van ons lewe sê ons baie dinge.
Ons kommunikeer verbaal. Ons woorde gee uiting aan ‘n magdom emosies.
Liefde. Wanhoop. Trots. Woede. Tevredenheid. Vrees.
Met al hierdie duisende en duisende woorde gaan daar iewers ‘n laaste woord of woorde wees voordat ons ons laaste asem uitblaas.
Mag hierdie laaste woord iets positiefs en warm wees.
Iets eenvoudig en verrykend.
Iets soos: “Dankie”.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.


