POTPOURRI | Aanskaf van ‘laaste paar skoene’ lei na misverstand

Karin Muller
Karin Muller. FOTO: Verskaf

POTPOURRI | Aanskaf van ‘laaste paar skoene’ lei na misverstand


Hy het altyd so mooi na sy werkskoene gekyk dat dieselfde paar skoene hom ‘n dekade of langer gehou het. Hy was kantoorgebonde, so sy werkskoene het nie lang afstande afgelê nie. Wanneer hy tuis kom, het hy ou klere en skoene aangetrek voordat hy takies in die tuin verrig het.

Die tyd vir nuwe werkskoene het aangebreek. Die begroting was knap. Hy het by ‘n paar winkels ingeloer en eindelik met baie mooi werkskoene in sy hand gestaan.

Dit was baie duurder as wat hy verwag het.

“Dit is mooi,” het sy vrou gesê. “Het jy swart werkskoene nodig?”

Hy het verduidelik dat hy eintlik twee pare werkskoene benodig: swart en bruin. Omdat dit soveel duurder is as wat hy verwag het, het hy geredeneer hy kan nou die swart paar koop en volgende maand die bruin paar.

Sy vrou het van hom verskil.

Volgende maand is daar ander gate wat toegestop moet word en dalk is hierdie grootte skoen dan uitverkoop. Sy weet hoe mooi hy na sy werkskoene kyk en hoe lank dit hom hou. Oor minder as twee jaar moet hy aftree.

Hulle kan net sowel oë toeknyp en nou albei pare skoene koop.

“Koop albei,” sê sy. “Dit is in elk geval jou laaste paar skoene.”

Hy het gelag en met altwee pare na die kassiere gestap. Die verkoopsvrou het hulle geskok aangekyk.

“Sy laaste paar skoene…” het sy hardop die woorde ge-eggo.

Sy vrou wou verduidelik dat sy spesifiek van sy werkskoene praat. Dat, volgens die patroon, sy werkskoene baie langer as twee jaar gaan hou. Dat hy, ná aftrede, nog pantoffels en tekkies en plakkies en ander skoene gaan koop.

Soms sê ons een ding, maar bedoel ons iets anders. Soms kry ‘n mens kans om die misverstand reg te stel. Soms nie.

Lees nog rubrieke en meningstukke hier.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article