KAMEELDORING | Budgie Blou kry grootkop – dalk sekuur in Valk se visier?

Budgie Blou
Budgie Blou het verdwyn. FOTO: Pexels / DavidOhBoy

KAMEELDORING | Budgie Blou kry grootkop – dalk sekuur in Valk se visier?


“Never regret thy fall, O Icarus of the fearless flight, for the greatest tragedy of them all is never to feel the burning light.” – Oscar Wilde

Budgie Blou is weg. Of Budge Blaauw soos hy homself later begin noem het.

Só hoor ek by die ander gevoëltes in die tuin. Sy verhaal is uitgebrei, en ook nie. Nadat hy uit sy voëlhok by iemand se huis ontsnap het, het hy homself in ons buurt tuisgemaak.

Saam met die wilde voëls gevreet, geslaap en gesing. By hulle geleer hoe om nes te maak en te oorleef, maar ek is onseker of dit ingesink het.

Hy het besef hy is besonders in sy blou tabberd, maar dalk was hy te opsigtelik.

Hy het die ander voëls oorreed om saam met hom in sy band te sing en die kitaar te slaan.

Só het hulle glo ‘n hele paar voëlvry-konserte in die stad gehou.

Kyk, hulle was nie sleg nie.

Die lirieke regtig diep – oor hoe ‘n mens, of ‘n voël, se vryheid eintlik van belang is, maar meer belangrik as verantwoordelikheid? Die wete dat daar groter wesens en beginsels is as jyself?

Dit het in sy lirieke ontbreek, as jy my vra.

Hy het handtekeninge uitgedeel, girls onthaal, en in koerantopskrifte verskyn.

Selfs in ‘n TV-joernaalprogram, waar hy op die bank gesit en gedurig sy kuif laat wip het.

Dit is toe dat ek sien sy magie hang ‘n bietjie, die wange ‘n bietjie pers.

Maar Budge Blaauw het darem hard gewerk vir sy sukses, en is deur baie ontberings.

Hy was ‘n uitgeworpene, en sy lirieke insiggewend. Hy was slim, maar nederigheid het hom later verlaat.

Dit is jammer sy kop het te groot geword, sy skoene te klein, sy bors te breed.

Soos ons, het hy vergeet van die geduldige, slinkse jagter, die valk.

  • Lees vorige aflewerings oor Budgie Blou hier.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article