Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

MENING | Fnuik kinders se belemmerde groei met gesondheid uit die grond uit


Wanneer dit kom by wat gesond is om te eet, en wat nie, word al dié inligting ‘n onverteerbare mengsel van terme soos “vegan”, “free radicals” (wat niks met politiek te doen het nie), “intermediate fasting,” keto, (gesonde en ongesonde) vette, olies, proteïne, gluten, intoleransie, en so gaan die lys aan.

Al die menings oor wat nou eintlik goed is en wat nie, is genoeg om enigeen sooibrand te gee of ‘n mens na ‘n groot porsie slap tjips of blok sjokolade te dryf net om (‘n oomblik) beter te voel.

‘n Ouma van een of twee geslagte terug sou waarskynlik gesê het die mensdom is te ledig, dié dat hulle soveel dinge uitdink. En sy sou ongesteurd voortgaan om haar goudgebakte vetkoeke van wit deeg in sonneblomolie, of dalk selfs nog skaapvet, te braai.

Gesond of ongesond, om voortdurend honger te wees knaag aan ‘n mens, en toe nie net aan die maagwande nie.

In hedendaagse Suid-Afrika het meer as ‘n kwart van kinders onder die ouderdom van vyf jaar belemmerde groei.

Dit is weens chroniese wanvoeding wat glo reeds in die baarmoeder begin, en vererger word deur herhaalde infeksies veroorsaak deur onhigiëniese lewensomstandighede in onder meer informele nedersettings en die invloed van swak munisipale dienste.

Hierdie belemmerde groei benadeel die kind se fisieke groei en breinontwikkeling.

So ‘n kind is dikwels korter as sy maats, het ‘n swakker immuunstelsel – en kanse op sukses op skool (en later in die lewe), word benadeel selfs voordat dié kind leer praat het, aldus talle studies.

Dié studies dui ook aan dat Suid-Afrika nie te min kos het nie, en meer as genoeg ruimte en geleenthede het om voedsel te produseer. Dit is iets wat selfs diegene wat onder die broodlyn leef, kan aanpak.

LEES OOK: The overlooked truth: Poor municipal services are stunting our children

In ‘n verslag van die DG Murray-trust (DGMT) word aangedui dat munisipaliteite grootliks kan bydra om belemmerde groei by kinders te help verminder.

Dit kan onder meer gedoen word deur water, sanitasie en vullisverwyderingsdienste te verbeter om infeksies en siektes te verminder of verhoed; en deur ongebruikte munisipale land beskikbaar te stel vir voedselproduksie in beboude gebiede.

Want ‘n mens hoef nie ‘n ouma van ouds of ‘n moderne dieetkenner te wees nie om te weet dat selfgekweekte groente en vrugte die heilsaamheid self is.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article