Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

MENING | Lewer lof én kritiek met dieselfde oortuiging


Soms, wanneer ‘n mens dit allermins verwag, het jy ‘n belewenis wat jou wegvoer van die goorheid van dit waarmee jy daagliks te doen het.

Goorhede wat jou dwars in die krop steek, maar waaroor jy beriggewing moet doen en waarvan jy foto’s moet neem omdat die ou gesegde uit nuuskantore – “if it bleeds, it leads” – steeds waar is.

In verskeie studies, en ook in ‘n onlangse artikel van die National Library of Medicine, getiteld “Negativity drives online news consumption” is weer bevind dat mense berigte oor misdaad, bloedvergieting en tragedie verslind.

Hierdie neiging, skryf allerlei kundiges, is omdat die brein negatiewe inligting vinniger as positiewe inligting verwerk, want ons glo instinktief dat kennis van ‘n risiko ons help om te beplan, pyn te vermy en veilig te bly.

Terug na die onverwagse positiewe belewenis: Dit het gekom in die vorm van die Noord-Kaapse eindronde van die jaarlikse Koor-eisteddfod vir Suid-Afrikaanse Skole (Sasce) wat verlede week Donderdag en Vrydag in die Mittah Seperepere-konvensiesentrum in Kimberley plaasgevind het.

Die provinsiale departement van onderwys en nasionale departement van basiese onderwys was primêre betrokkenes.

Hiertydens het solosangers, kore en ander musiekgroepe van laer- en hoërskole vanuit die vyf distrikte in verskillende genres meegeding.

Hoe bykans droomagtig was dit om dié kinders trots op die verhoog te sien waar hulle met oorgawe onder meer bekende opera-arias sing. Was dit in sommige gevalle nie vir die skoolklere en -haarstyle nie, sou jy jou kon verbeel dat jy in ‘n operahuis is.

‘n Verdere pluimpie kom die organiseerders toe wat dit reggekry het om die jeugdige toeskouers deurgaans stil te hou, deelnemers op hul tyd te laat deelneem, en wat die verrigtinge met gemak en professionaliteit laat voortgaan het.

‘n Mens het aan die kinders van verafgeleë dorpe gedink wat die opwinding van ‘n bustoer na Kimberley kon meemaak; aan die blootstelling en ondervinding wat hulle kon kry. Daar is gedink aan ouers wat die kinders ondersteun het; aan lojale en deeglike onderwysers of afrigters waarsonder die kinders nie hierdie geleentheid – vir hulle ‘n grootse gebeurtenis – kon kry nie.

Met die wegry van die kongressentrum, deur Kimberley se strate waar die rommel al drie weke lank ophoop; waar riool en skoon water plek-plek die strate afstroom; waar jy sig-sag ry om slaggate te vermy, dink jy: Laat ons met dieselfde oortuiging en oorgawe waarmee ons kritiseer, ook lof toeswaai wanneer dit op ons pad kom.

  • Lees nog meningstukke en rubrieke hier.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article