TWYFELHOEKIE | Mening vir elke saak, maar stilbly soms die beste

Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

TWYFELHOEKIE | Mening vir elke saak, maar stilbly soms die beste


Ons het voor oom Daan grootgeword. Dit was ‘n absolute voorreg. Hy was kwaai; en uniek van karakter en geaardheid.

Ek hoor hom nog kliphard sê: “Ag, nee wat, boeta, as jy nie ‘n ordentlike woord het om te sê nie, bly eerder stil. Jy praat nou sommer jou eie kop se nonsens.”

Ek was altyd bang om my eie kop se nonsens te praat. Al het ek nie rêrig geweet wat dit beteken nie. Dit het nie goed geklink om my eie kop se nonsens te praat nie.

Vandag weet ek wat dit beteken, wanneer ek sien hoe mense op die sosiale media sommer net hul eie kop se nonsens praat.

Ek kyk na inskrywings, menings en opmerkings, en ek besef party praat maar net omdat hulle ook wil praat. Daar is geen substans aan die inhoud nie, maar ‘n mening wil elkeen hê, gee en verdedig.

Dan dink ek aan oom Daan. In sy leeftyd was daar nou nie sosiale media en al hierdie vry sê van alles oor almal nie.

LEES OOK: TWYFELHOEKIE | Elkeen van ons kan nie ons eie flenters ontken nie

Maar, hy sou dit hul eie kop se nonsens genoem het. As jy sommer, sonder doel, sonder insig en sonder wysheid sommer net praat om te kan praat.

Interessant hoe mense deesdae ‘n mening oor alles en almal kan en wil hê; en laat ons maar eerlik wees: Hoe swakker die selfbeskouing, hoe meer wil ons gehoor word.

Wie weet wie hy en sy is, het nie nodig om hulle die heeltyd voorop te stel deur ander af te maak nie.

‘n Mens hoef ook nie toe te tree tot elke gesprek nie en ‘n mens hoef ook nie die laaste sê te hê nie.

Oor die eeue is dit bekend dat dit eintlik maar wys is om soms stil te bly eerder as nonsens praat.

En is dit nie so dat jy baie van jou eie dwaasheid kan wegsteek deur liewers nie iets te sê nie?

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article