“Soek mevrou ‘n sakkie vir hierdie spanne?” vra die kassier. Ek glimlag. “Asseblief”.
Toe ons meer as twee dekades gelede in die Noord-Kaap aangeland het was hierdie vir my ‘n moeilike begrip om te verstaan. Hierdie spanne. Watter spanne? Rugbyspanne? Krieketspanne? Sokkerspanne? Waarvan praat die mense?
Die Noord-Kaapse inwoners het hul eie manier van praat. Net soos die ander provinsies.
As iemand vra dat die spanne van buite af tot binne-in die gebou gedra moet word, kan dit ‘n verskeidenheid van goed insluit. Maar in hierdie groot provinsie praat mense nie van goed nie.
Hulle praat van spanne.
Vir so ‘n vae begrip is dit verstommend hoe almal verstaan wat gesê word.
Hierdie spanne. Daardie spanne. Gaan haal nog spanne. Gooi hierdie spanne weg. Bêre daardie spanne. Geen verdere verduidelikings is nodig nie.
Die ander dierbare sê-ding is wanneer iemand jou voorspoed toewens. “Mag dit reën waar jou beeste loop”. In hierdie dorre provinsie verstaan inwoners presies wat dit beteken en hoeveel gewig dit dra.
As ‘n mens lank genoeg op ‘n plek woon, kweek jy die gewoontes van diegene rondom jou aan. Hul manier van doen. Hul manier van praat. Dit is ongelooflik hoe aanpasbaar ons is. Ons kan natuurlik kies by wie en in hoe ‘n mate ons aanpas.
In die Noord-Kaap is dit maklik.
By die groente-afdeling in ‘n groot winkel wys jy na die groot tamaties en vra: “Het julle van hierdie spanne wat baie klein is?” Jy gaan vinnig die antwoord op jou vraag kry.
As jy iemand voorspoed wil toewens, sê jy: “Mag dit reën waar jou beeste loop”.
Tussen die spanne wat almal verstaan en die beeste wat weiding het, dek jy ‘n groot deel van die Noord-Kaap se manier van sê en doen.



