“Vee eers voor jou eie deur,” lui die spreekwoord.
Ons ry onlangs vanaf ‘n plaaslike winkelsentrum terug huis toe. Toe ons ons motorhek wil oopmaak, merk ons op dat iemand besig is om die straat teenaan die sypaadjie te vee.
Ek wonder hardop of dit ons bure se tuinhulp is wat vandag effens wyer vee.
My man klim uit en gesels met die vreemdeling met die besem. Die vreemdeling beduie dat hy eintlik vir iemand in die middel van die straat werk, maar dat daardie persoon gevra het hy moet vandag die hele straat vee.
Ons is dankbaar oor die gebaar. Ongeag die slaggate en grasse op die sypaadjies lyk alles inderdaad soveel beter.
Iemand kla onlangs by my, juis oor ons sypaadjies. Sy ontsteltenis is duidelik te bespeur. Hy kla oor sypaadjies waar klippe gepak is dat ‘n mens nie daar kan stap nie. Hy kla oor sypaadjies wat so verwaarloos is dat dit veiliger is om in die pad, met al die slaggate, te probeer stap. Hy kla oor die veiligheid van kinders wat huis toe en skool toe stap. Kafee toe stap.
Die onmiddellike omgewing om ons lyk gehawend. Om dit sagkens te stel. Die strate is byna onbegaanbaar. Die sypaadjies is heeltemal onbegaanbaar.
Wanneer ons ‘n entjie gaan stap vir oefening en stresontlading, haal ons eintlik meer spanning op die hals. Die ongesnoeide bome, teerpaaie vol slaggate en onbegaanbare sypaadjies maak dit haas onmoontlik om ongedeërd terug by die huis te kom.
As ons gaan wag totdat iemand hul werk doen en opruim, gaan ons waarskynlik baie lank wag.
Ons moet begin om voor ons eie deure te vee. Agterdeure. Voordeure. Sydeure. Letterlik, sowel as figuurlik.
As die bure nie tyd of hulpmiddels hiervoor het nie, vee sommer voor hul deure ook.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.



