‘n Bietjie erkenning raak almal van ons. Jy kan wees wie jy wil, dit gaan nie ongesiens by jou verby as iemand so ‘n bietjie erkenning gee aan wie jy is, wat jy doen en waarvoor jy raakgesien word nie.
Daar is uiteraard geen twee mense op aarde wat dieselfde is nie. Mense verskil.
Daar is wel dinge wat ons gelyk maak, byvoorbeeld die gebrokenheid waarvan ons almal deel is. Almal maak foute.
Daar is nog ‘n paar sulke voorbeelde. En een daarvan is dat elke liewe mens op hierdie aarde gedy met ‘n bietjie erkenning.
‘n Mens sien dit eintlik klein-klein al as ouers kinders aanmoedig. Interessant hoe ‘n groot verskil daar in emosionele intelligensie is tussen kinders wat gereeld aangemoedig word teenoor kinders wat gereeld gekritiseer word.
Hoekom dit so is, sal niemand weet nie, maar om die een of ander rede is dit baie makliker om kritiek te lewer as wat dit is om iemand te komplimenteer.
Dit is makliker om iemand af te druk as om iemand op te tel.
Die lank en die kort is: Ons hou van erkenning. En dit kom gratis en verniet. Daarom moet ons maar aanleer om minder te kritiseer en meer te komplimenteer.
Kritiek lewer is immers maklik; selfs die slegste mens kry dit gou reg, maar wat van erkenning gee?
Hoekom fokus ons nie meer daarop nie?
Of dit by die huis, by die skool, by die kerk of die werk is, hou tog op om mense af te breek, te kritiseer – begin mense optel, aanmoedig. Gee erkenning waar erkenning nodig is.
Sien raak waar iemand gekomplimenteer behoort te word. ‘n Mens woon en werk nie om gekomplimenteer te word nie, tog doen erkenning ‘n mens die wêreld se goed.
Hoekom iemand te na kom as jy iemand goed kan doen? En hierdie kan by ons elkeen begin.
Komplimenteer, eerder as kritiseer. Bou, in plaas van breek. Gee erkenning, dit kos niks.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.



