Die afgelope week sit ons in ‘n vergadering waarin ons mooi dink oor die pad vorentoe. Daar is soms agenda-punte wat moeiliker is as ander.

Ons stoei, spreekwoordelik gesê, ál om die blok met ‘n saak. Totdat een van die adviseurs ons help. Almal van ons het baie respek vir haar ervaring, wysheid en raakvathantering van goed.

Soms is dit lekker om te hoor wat jy wil hoor, te doen wat jy wil doen. Maar heel dikwels moet ‘n mens hoor wat jy nie wil hoor nie.

Sy help ons daarmee. In wysheid, nadat sy ‘n oomblik gedink het, sê sy sterk: “Daar kom tye dat ‘n mens moet wegstap van iets. Dat ‘n mens iets moet agterlaat.”

Dit is vir my asof haar woorde so in ‘n diep stilte gaan lê; dalk juis omdat sy dit van buite sê – juis daarom dat dit ons almal so ‘n bietjie met stilte laat.

Hoe meer ek haar woorde oordink, hoe meer besef ek die waarheid daarvan, al is dit nie lekker om te hoor nie.

Soms moet ‘n mens omdraai en wegstap. Van ‘n situasie. Van ‘n konteks.

Dikwels probeer ons dinge aan die gang hou wat dit nie werd is nie. Ons moet miskien meer introspeksie hou en vra waarmee moet ons aangaan en waarmee nie. En met wie en met wie nie?

Soms is daar een mens wat honderd se vrede versteur. Of ‘n konteks wat jy onnodig, en tot frustrasie, probeer om te laat werk. Miskien probeer ons te veel ‘n dooie perd ry.

Daar kom tye dat ‘n mens moet bereken wat is die moeite werd en wat nie. Wanneer moet ‘n mens aanbeweeg en wanneer nie. En met wie en wie nie.

Dalk maak ons ons te moeg omdat ons soms te bang is om weg te stap van iets en/of iemand.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article