Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks | Diamantveld wen rugbybeker

Die Hoërskool Diamantveld is die rugbywenners.
Diamantveld het die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks se rugby-afdeling gewen. Van links is Dirk Pretorius (Wesgrow, borg), Deon Carney (rugby-organiseerder Diamantveld) en Oloff Bergh (bedryfsbestuurder Diamantveld). FOTO: Lientjie Mentz

Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks | Diamantveld wen rugbybeker

Die Hoërskool Diamantveld is die rugbywenners.
Diamantveld het die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks se rugby-afdeling gewen. Van links is Dirk Pretorius (Wesgrow, borg), Deon Carney (rugby-organiseerder Diamantveld) en Oloff Bergh (bedryfsbestuurder Diamantveld). FOTO: Lientjie Mentz

Die groot wenner van die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks wat die afgelope seisoen tussen agt skole in die Vrystaat en Noord-Kaap plaasgevind het, is elke kind wat deelgeneem het.

Gys Coetzee, uitvoerende direkteur van die Wesgrow-reeks, sê die standaard van die kompetisie neem elke jaar toe.

“Dit is ‘n vriendskaplike reeks tussen agt skole wat die afgelope paar jaar toenemend mededingend geraak het,” sê Coetzee. “Die reeks versterk skole verder in hul deelname in plaaslike ligas.”

Wenners van vanjaar se Wesgrow-reeks is Maandag 7 September in Bloemfontein aangekondig. Die agt skole wat deel van die reeks vorm, is die Hoërskool Diamantveld in Kimberley, Goudveld-Hoërskool in Welkom, Hoërskool Witteberg en Bethlehem Voortrekker Hoërskool in Bethlehem, Hoërskool Trio in Kroonstad en die Hoërskool Fichardtpark, Hoërskool Jim Fouché en Hoërskool Sentraal in Bloemfontein.

Diamantveld speel puik rugby

Diamantveld se puik rugbyspanne het aan hulle die rugbybeker as algehele rugbywenners besorg. Die skool se o.19A-, B- en C-span, o.16A- en B-span en o.15B-span het almal die meeste punte in hul ouderdomsafdelings behaal en vir hul skool die top-posisie behaal.

Vanjaar se wenner van die seunshokkie sowel as die algehele wenner van die hokkie is Jim Fouché. Voortrekker het die meisieshokkie gewen.

Die netbalbeker is gesamentlik deur Jim Fouché en Sentraal gewen.

Sentraal was die algehele wenner van vanjaar se Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks.

Ouers, afrigters, onderwysers bedank

Met sy openingsrede Maandag het Mark Louwies, skoolhoof van Goudveld, gesê die seisoen was veel meer as net wedstryde wat gespeel is.

“Daar was uiteindelik 28 interskole. Elke skool het die geleentheid gekry om op sy eie veld en op elke ander skool se veld te gaan meeding. Uiteindelik het elke besoekende skool oor die seisoen na raming 10 500 km op Suid-Afrika se paaie afgelê.

“Agter daardie kilometers sit busse vol jongmense: rugbyspelers, hokkiespelers, netbalspelers. Van ons jongste ouderdomsgroepe tot ons eerstespanne. By ‘n volledige interskool kan daar maklik rondom 540 leerders van een skool aan die sportprogramme betrokke wees.”

Louwies het sy dank teenoor ouers uitgespreek wat hul kinders in die vroeë oggende by die skole moes hê.

“Wanneer ‘n ouer op ‘n Saterdagoggend sy of haar kind by ‘n skool aflaai, gebeur iets baie belangriks. Daardie ouer sê sonder woorde: ‘Ek vertrou julle met iets wat vir my kosbaarder as enigiets anders is.’

“Dit is ‘n groot verantwoordelikheid. Daarom wil ek vanaand dankie sê aan elke afrigter, spanbestuurder, onderwyser, noodhulpwerker, bestuurder en personeellid wat daardie verantwoordelikheid ernstig opgeneem het.”

Charles Liversage, skoolhoof van Sentraal, het die borge bedank wat soveel vertroue in die reeks gestel het en uiteindelik so ‘n reeks moontlik gemaak het.

In besonder het hy Wesgrow, die VKB-groep, Skilltracer, die Universiteit van die Vrystaat (UV) en Novus Media Gemeenskapsnuus (waaronder NoordkaapBulletin, Vista, VrystaatKroon en BloemNuusExpress) bedank. Die vier gemeenskapskoerante het die media-dekking vir die reeks behartig.

LEES OOK: Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks: Strawwe wedstryde tot op die einde

Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks
Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article