Draai jou gesig na die son.
Draai jou gesig na die son. FOTO: Unsplash / Sonia Nadales

KAMEELDORING | Draai jou na die son


“You don’t need to send an invitation to the sun, open the window and it will come in; you don’t need to send an invitation to wisdom either, just open the curtains in your mind!” – Mehmet Murat ildan

Daar is ‘n ou wysheid van die beroemde skrywer Helen Keller: “Hou jou gesig na die sonskyn en jy sal nie die skaduwees kan sien nie.”

So sit ons in die winterson, skuif van die een boud na die ander.

Dan bak die son die rug warm, dan die voete.

Gou-gou skaduwee toe om af te koel, maar die verslaafde keer altyd terug.

Soos die spul muisvoëls wat elke wintersdag op die punte van hul tone in die hoogste boomtoppe staan en hul magies na die son keer om die heel laaste sonstrale in te drink voordat die nag aanbreek.

Ra – die Egiptiese songod – is nie ‘n brandende gasbol in die kosmos nie; dit is die polsslag van die planeet en die onsigbare regisseur van ons lewe en bestaan.

Die eerste daglig hou sielkundige krag in. Wanneer die wintersonstrale deur die venster sypel, verander die temperatuur en die atmosfeer in ons gemoed.

Dit aktiveer energie, wek drome op en herinner ons elke dag is ‘n skoon bladsy. Jy kan maar van gister vergeet; vandag leef; en môre nie gister se foute herhaal nie.

Sonder die son sou ons in ‘n ewige, neerdrukkende skemerte leef. Benewens die gesondheidsgeskenk van vitamiene D, gee dit hoop.

Sonder sonlig vind fotosintese nie plaas nie. Sonder fotosintese sterf die plante, en sonder plante kan diere nie eet nie.

Die son bepaal die seisoene, die trek van die voëls en die ontwaking van die veld.

Dit is die horlosie waarna die skepping luister.

As ons ons gesig na die son draai, smelt die skaduwees van gister weg.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article