Op ‘n dag gebeur dit: Iemand noem jou “oom” of “tannie”. ‘n Gevoel van verontwaardiging is gewoonlik die eerste wat beleef word.
Hoe durf iemand jou so noem? Want al het die verjaardae fluks hul pad tot ver verby die 50-jaar-merk gestap, is jy g’n oud of iemand se oom of tannie nie.
Dan gebeur dit weer. En weer.
Dalk is dit die aanvaarding wat ouderdom bring, maar later stribbel jy nie teë nie, en jy kry dit reg om dié nare woorde nie te hoor nie.
Op ‘n dag vra iemand jou, gewoonlik met ‘n betaalslag iewers: “Kwalifiseer u al vir pensioen-afslag?”
Weereens verontwaardiging, want lyk ek dan só oud, wil jy vra?
Maar jy hap na lug en sluk jou woorde. Jy onthou waar jou ouderdom trek, en jy onthou die gesig van die gryskopmens – glad nie meer ‘n kuiken nie, hoor – wat jy die oggend in die spieël gesien het.
Jy dink aan jou ouers, hoe hulle gelyk het en waarmee hulle te doene gehad het toe hulle so oud was soos jy nou – toe jy geglo het hulle was stokoud.
En jy weet: Indien jy die lewe hou, is die laat sestigs net hier op die voorstoep, die sewentigs op die stoeptrap, en die tagtigs kom reeds in die tuinpaadjie aan.
Hulle kom vanself aan, jy hoef hulle nie te nooi nie.
Ongeag daarvan dat jy glo jy jouself “opgepas” het en onheilige en ongesonde gewoontes sover moontlik vermy het, weet jy nie hoe die jare jou gaan behandel nie.
Ook dié wat vroeër met slegte gewoontes aan die hand graag gesê het: “Ag, mens kan nie gesond doodgaan nie”, sluk dié woorde vinnig soos glase vol gaskoeldrank af, want die pyne en kwale het geluister en sommer ‘n hele busvol by jou afgelaai.
Boonop vang jy jouself dat jy dinge vergeet, stadiger word, gesprekke herhaal en graag wyshede uitdeel.
Op Vrydag 21 Augustus vind Wêrelddag vir Senior Burgers plaas om die bydraes, prestasies en wysheid van ouer volwassenes te erken, en om bewustheid te skep oor die mishandeling en uitbuiting van bejaardes, asook hul unieke gesondheidskwessies en welstand.
Mag dit ook ‘n dag wees waarop elkeen wat jonger as ‘n bejaarde is se ingestelheid teenoor seniors só verander dat jou optrede dit weerspieël van hoe jy eendag behandel wil word.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.





