Hiermee die volgende aflewering in ‘n reeks wat ‘n Noord-Kapenaar oor die lewe saam met ‘n narsistiese ma geskryf het. Vir die ander aflewerings, kyk hier.
Dit is Vrydagoggend.
My selfoon lui. Dit is my skoonsus uit die buiteland. Omdat my pa baie siek is, aanvaar ek sy skakel om nuus oor sy vordering uit te ruil.
Ek is verkeerd.
Sy skakel om my mee te deel dat my pa oorlede is.
“Ek het die idee gekry Ma gaan jou nie laat weet nie … ” weergalm haar woorde in my ore.
Die soveelste keer in amper 50 jaar breek my hart in stukke. Dit gebeur gewoonlik om dieselfde rede.
Narsiste floreer daarop om hul slagoffers te straf.
Hulle straf hulle soos hulle goeddink en wanneer dit hulle pas. Sonder om ‘n oog te knip.
Ek aanvaar dat dit, in die wêreld waarin hulle leef, vir hulle sin maak. Hulle regverdig dit met baie oortuiging.
Self kon ek dit nog nooit verstaan nie.
Jy is gewoonlik onbewus van waar jy oortree het. Maar jy het. En daarvoor sal jy boet.
‘n Buitestander sal die narsis die voordeel van die twyfel gee.
“Siestog. Sy was seker verward en het gedink sy het jou geskakel. Sy het tog aan skok gely. Sy was darem baie lief vir jou pa.”
Die optrede van ‘n narsis is so onverklaarbaar dat die slagoffers se stories met ‘n knippie sout geneem word. Dit is tog heeltemal onwaarskynlik dat iemand so sal optree. Die minste van alles jou biologiese ma.
Om in jouself en jou eie weergawe van gebeure te begin twyfel is iets wat haarfyn deur ‘n narsis beplan word. So ook die straf wat uitgedeel word.
Hoe groter die straf, hoe groter die twyfel, hoe groter die houvas wat hulle op ‘n slagoffer het.
Straf sal jy gestraf word. Soos jy verdien. Want in wese is jy ‘n baie slegte mens. Iemand moet jou op die regte pad hou. Van hierdie onsin is die narsis heeltemal oortuig.
Die straf wat uitgedeel word, tref jou soos ‘n emmer yswater.
In retrospeksie wonder jy waarom jy so naïef was. Jy moet darem teen hierdie tyd van beter weet.
Dalk omdat jy glo dinge gaan verander. Verbeter. Die narsis gaan insig kry.
Iewers sê iets vir jou dit gaan nie verander nie, maar jou brein vertel vir jou jy moet vasbyt totdat dinge verbeter – ter wille van oorlewing.
Ná meer as ‘n halwe eeu saam met ‘n narsis kan ek jou verseker dat hulle nie gaan verander nie. Dinge gaan moontlik net vererger.
Die onsigbare dekmantel wat oor emosionele mishandeling hang, veroorsaak dat slagoffers nie herken of gehelp word nie. Jy moet self probeer oorleef.
Ek skryf oor hierdie littekens wat ek in my hart ronddra om ‘n fisieke bewys te hê van ‘n lewe wat ek nie wou leef nie. As dit iemand kan help om uit die wurggreep van narsisme weg te breek, soveel beter.


