Die sesde jaarlikse Yonder Hartsfees vind vandeesweek plaas, en ‘n verskeidenheid pret-aktiwiteite word van Donderdag 3 September tot Sondag aangebied.
Soos vorige jare tree nasionale en plaaslike kunstenaars op, terwyl ‘n groot aantal uitstallers en entrepreneurs hul produkte verkoop. Pret-aktiwiteite word in oormaat vir kinders aangebied, en die pretpark sal weer in al sy glorie ure se vermaak verskaf.
Die kunstenaars wat optree, is onder andere Drommedaris (Donderdag om 19:00), Riaan Benadé (Donderdag om 20:00), Jay (Donderdag om 20:00), Lesley Carbutt (Vrydag om 16:00), The Rockettz New Generation (Vrydag om 20:00), Snotkop (Vrydag om 21:00), Dodo (Saterdag om 21:00) en Mike Muller tydens Gospel Morning (Sondag om 10:00).

Thapelo Kgakatsi Drumming Services tree in verskeie tydgleuwe op, asook Donné, Dillon Lerm, Hennie en die Kitaar Kêrels.
Saterdag om 17:00 word die rugbywedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks op ‘n groot skerm vertoon.
Fees-inkomste help vaardighede ontwikkel
Dié fees word aangebied met onder meer die hulp van volwassenes met intellektuele gestremdhede wat by Yonder tuisgaan, en vind plaas om geld in te samel vir die Noord-Kaapse Geestesgesondheidsvereniging, waarvan Yonder en sy werkswinkels deel is.
Hierdie werkswinkels waarin inwoners van Yonder hul vaardighede ontwikkel, sluit in dié vir kuns- en handwerk, sweiswerk, rottangwerk, betonwerk en houtwerk, asook ‘n bakkery, ‘n wassery, ‘n kwekery en skoonmaakdienste.
Die Yonder Hartsfees word op ‘n manier aangebied wat hierdie volwassenes met ‘n intellektuele gestremdheid as vennote en mede-aanbieders hiervan erken, en word vanjaar ‘n eerste keer in samewerking met Diamonds and Dorings gehou.
Kaartjies kan vooraf teen R80 per persoon op opentickets.co.za gekoop word, of by die hek teen R100 per persoon. Dié kaartjies gee toegang tot die feesterrein, laat feesgangers toe om die stalletjies te besoek en geld ook vir bywoning van vertonings.
Kaartjies vir pretritte, speletjies en ander aktiwiteite word afsonderlik gekoop. Voldoende parkering is by die hek beskikbaar.
- Besoek Yonder Hartsfees op Facebook vir meer inligting, skakel 053 841 0537 in kantoor-ure, of daag in dié dae op die feesterrein by Malu-park langs Hendrik van der Bijl-straat in Kimdustria, Kimberley, op.





