Toksiese verhoudings: Sien die rooi vlae raak wat pyn sonder herstel bring

Sien die rooi vlae raak wat in toksiese verhoudings wapper.
Sien die rooi vlae raak wat in toksiese verhoudings wapper. FOTO: Unsplash / Eric Ward

Toksiese verhoudings: Sien die rooi vlae raak wat pyn sonder herstel bring


’n Verhouding hoef nie perfek te wees om gesond te wees nie. Maar dit moet veilig genoeg wees vir eerlikheid, verantwoordbaar genoeg vir herstel, en oop genoeg vir verandering.

Só beklemtoon Louis Venter, ’n verhoudingsterapeut van Coupleshelp in Johannesburg.

As jy nie daardie veiligheid ervaar nie, moet jy dalk op die uitkyk wees vir die rooi vlae van ’n toksiese verhouding.

“Rooi vlae is dikwels subtiel aan die begin, en maklik om te verskoon wanneer emosies sterk is,” verduidelik Michelle van Zyl, ’n leefstylafrigter van Johannesburg. Louis voeg by dat dinge nie altyd begin met groot drama nie, maar ’n klein innerlike gevoel dat jy jouself  begin verloor.

“Jy begin minder sê wat jy regtig dink, jy loop op eiers, jy vra gedurig, ‘het ek nou iets verkeerd gedoen?’ of jy voel verantwoordelik vir die ander persoon se bui.”

Wees bewus van gevaartekens

Volgens Michelle is hierdie ‘n paar gevaartekens: “Inkonsekwentheid – die persoon se woorde en dade stem nie ooreen nie. Daar is ook ’n gebrek aan emosionele volwassenheid en die persoon neem nie verantwoordelikheid vir sy of haar gedrag nie.

Kyk ook hoe hulle ander mense behandel, veral dié van wie hulle niks nodig het nie, soos kelners of petroljoggies. Dit sê baie oor hul karakter.

Wees ook op jou hoede vir té veel, té vinnig. Wanneer iemand baie intens baie vinnig beweeg, beloftes maak of oordadige aandag gee, kan dit soms ’n teken wees van ongesonde dinamika eerder as ware verbinding.”

Louis beklemtoon dat konflik natuurlik deel is van enige verhouding, maar daar is ’n verskil tussen normale konflik en werklik toksiese gedrag.

Sien die rooi vlae raak wat in toksiese verhoudings wapper.
In enige verhouding is pyn en seerkry, maar in ‘n gesonde verhouding vind herstel plaas. FOTO: Unsplash / Claudia Wolff

“Normale konflik gebeur wanneer twee mense verskil, seerkry, verkeerd verstaan, en dan probeer herstel. Daar kan trane, frustrasie en moeilike gesprekke wees, maar daar bly drie belangrike elemente: veiligheid, verantwoordbaarheid en ’n bereidheid om te verander.

“Toksiese gedrag is anders. Dit is wanneer konflik herhaaldelik gebruik word om beheer te kry, iemand te verneder, te intimideer, te manipuleer of stil te maak. As jy ná konflik konsekwent verward, bang, skuldig, minderwaardig of geïsoleerd voel, en die ander persoon neem geen verantwoordelikheid of wys geen werklike bereidheid om te verander nie, is dit nie meer net normale konflik nie. Dan raak dit ’n patroon wat jou emosionele veiligheid begin aantas.

’n Gesonde verhouding kan pyn hê, maar daar is herstel. ’n Toksiese verhouding het pyn sonder herstel.

Manipulasie-taktieke speel ’n groot rol in toksiese verhoudings omdat dit dikwels iemand se selfvertroue, perspektief en gevoel van veiligheid stadig begin vernietig, voeg Michelle by. “Gaslighting gebeur wanneer iemand veroorsaak dat jy jou werklikheid bevraagteken en wanneer ’n persoon jou gevoelens of ervaring konstant minimaliseer of ontken.

“Skuldgevoelens word ook gebruik as ’n beheermeganisme in toksiese verhoudings. Jaloesie kan ook soms geromantiseer word deur dit te verwar met omgee. Wanneer dit lei tot beheer, wantroue of isolasie van vriende en familie, word dit ’n probleem.”

Gesonde grense is natuurlik baie belangrik in enige verhouding. Grense is nie ’n straf nie, dit is duidelikheid, sê Louis.

“ ’n Grens sê: ‘Hier is wat ek nodig het om veilig, gerespekteer en emosioneel gesond te bly’. ’n Goeie grens probeer nie die ander persoon beheer nie. Dit sê eerder wat ek sal doen as die patroon voortgaan. Byvoorbeeld: ‘As ons begin skree, gaan ek die gesprek stop en later terugkom.’ Gesonde verhoudings kan grense oorleef. Ongesonde verhoudings sien grense dikwels as bedreiging.”

Praktiese raad as jy vermoed jy is in ’n toksiese verhouding

Michelle en Louis gee die volgende raad:

  • Moenie jou verwarring ignoreer nie. Begin deur eerlik neer te skryf wat werklik gebeur, nie net hoe die ander persoon dit verduidelik nie. Patrone raak duideliker wanneer jy dit buite jou kop sien. Vra dan drie eenvoudige vrae:
    • Is ek emosioneel en fisies veilig?
    • Neem die ander persoon werklik verantwoordelikheid vir die skade wat gebeur?
    • Is daar ’n duidelike bereidheid om te verander: nie net woorde nie, maar gedrag oor tyd?

As die antwoord herhaaldelik “nee” is:

  • Fokus op gedragspatrone, nie enkele gebeurtenisse nie. Kyk na die groter geheel. Probeer objektief na die verhouding kyk en vra jouself hoe jy meeste van die tyd binne die verhouding voel.
  • Praat met iemand veilig en betroubaar: ’n terapeut, vriend, familielid, geestelike leier of professionele persoon. Toksiese verhoudings floreer dikwels in isolasie.
  • Skryf jou ervarings neer en reflekteer op spesifieke situasies. Dit help jou om die werklikheid duideliker te sien.
  • As daar dreigemente, geweld, ernstige emosionele mishandeling, dwang, verslawing wat veiligheid bedreig, of vrees vir jou fisiese veiligheid is, moet die fokus nie eerstens op kommunikasie wees nie. Dan moet die fokus op veiligheid, ondersteuning en ’n praktiese plan wees.
  • Moenie wag vir ’n rede wat ernstig genoeg is om standpunt in te neem nie. Vra die vraag: “As my beste vriendin in hierdie situasie was, watter raad sou ek vir haar gee?”
  • Om weg te stap is nie altyd ’n bewys dat jy nie liefgehad het nie. Soms is dit die pynlike erkenning dat liefde sonder veiligheid, verantwoordbaarheid en verandering nie genoeg is om ’n verhouding gesond te hou nie.
  • Begin jou selfvertroue op te bou deur klein besluite vir jouself te neem, luister na jou behoeftes, en herinner jouself dat jou gevoelens geldig is.
  • Kyk na jou emosionele welstand deur fisiese oefening. Trauma en emosionele stres leef ook in die liggaam. Beweging, goeie voeding, slaap, oefening en selfs stilte kan ongelooflik behulpsaam wees. Welstand en genesing vind holisties plaas.
  • Herontdek wie jy werklik is deur jouself te vra: “Wat maak my gelukkig? Waarop het ek opgegee?” Soms gaan genesing daaroor om weer kennis te maak met jouself.
  • Die heel belangrikste: Wat jy ervaar het definieer nie jou waarde nie. Soms word die sterkste, wysste weergawe van jouself aan die ander kant van ’n moeilike seisoen gebou.

Lees nog meer op Afrikaans.com

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article