Hetsy jy sosiale media gebruik om jou onderneming te bemark, of net om ‘n boodskap met die wêreld te deel, sal ’n paar goue reëls jou werk makliker maak, en die trefkrag verbeter.
“Ek is al jare in die wêreld van sosiale media, en sien byna elke dag hoe mense onbewustelik hul platforms verkeerd gebruik, of waardevolle geleenthede misloop. Jy hoef nie ‘n tegniese ghoeroe of voltydse inhoudskepper te wees om sosiale media soos ‘n kundige te gebruik nie,” sê Magriet Groenewald, eienaar en stigterslid van Magriet.co, ’n aanlyn sosialemediasakeskool.
Sy het hier met afrikaans.com gesels.

Dinge wat jy beslis moet doen
Wees konsekwent
Doen gereeld plasings en hou by ‘n roetine. Dis nie nodig om elke dag ‘n plasing te maak nie, maar mense moet weet wat om van jou platform te verwag. Al is dit net twee tot drie keer per week, dit is voldoende. Die belangrikste is net om daarby te hou.
Skep waarde
Mense volg jou nie net omdat jy bestaan nie, hulle wil iets van waarde vir hulself uit jou inhoud kry. Dit kan inspirasie, inligting, raad of vermaak wees. Vra jouself: Watter waarde kry my volgelinge uit hierdie plasing?
Gebruik goeie gehalte beelde en video
Ons is visuele wesens. As iets vaag, donker of onprofessioneel lyk, blaai (“scroll”) mense verby. Jy hoef nie duur toerusting te hê nie, net goeie beligting en ’n skoon agtergrond kan die verskil maak.
Wees jouself
Mense het ’n natuurlike behoefte aan ‘n verbintenis met mense, nie met perfekte, gepoleerde handelsmerke nie. Jou unieke styl, stem, humor – dis wat jou spesiaal maak en jou profiel laat uitstaan.
Reageer en bou gemeenskap
Sosiale media is ’n gesprek, nie ’n verkoopspamflet nie. Reageer op kommentaar en boodskappe, wys waardering, en bou verhoudinge met jou volgelinge.
Dinge wat jy moet vermy
Moenie net oor jouself praat nie
As elke plasing net ’n advertensie is, gaan mense gou moeg word. Wissel dit af met wenke, vrae, stories, of iets prettigs.
Moenie hutsmerke (hashtags #) oordoen nie
’n Handvol goedgekeurde, toepaslike hutsmerke is perfek. 30 hutsmerke onder elke plasing wys dat jy nie ’n strategie het nie, en boonop lyk dit desperaat.
Moenie kopieer en plak nie
Wat op iemand anders se blad gewerk het, gaan nie noodwendig vir jou werk nie. Skep oorspronklike inhoud wat jou persoonlikheid en boodskap weerspieël.
Moenie bang wees om te wys wie jy is nie
Perfeksie word oorskat. Jou volgelinge wil sien wie jy regtig is, insluitend jou “agter-die-skerms”-oomblikke, foute en leerprosesse.
Moenie hoop vir resultate sonder ’n plan nie
Sonder ’n duidelike strategie (selfs al is dit net ’n eenvoudige inhoudsplan per week), mors jy tyd en energie. Jy hoef nie met al die nuutste toebehore te begin nie, maar jy moet doelgerig wees met jou strategie en dit wat jy beplan, al is dit hoe eenvoudig. Volg dit week na week.
“Sosiale media is nie ’n naelloop nie, dis ’n marathon. Dis OK as jy stadig begin. Wat belangrik is, is dat jy begin en aanhou. Wees leerbaar, toets dinge uit, kyk wat werk vir jou en hou dit vol. En as jy ooit verlore voel, onthou net, jy hoef dit nie alleen te doen nie. Daar is gemeenskappe, mentors en kursusse waar ons jou hand vat en jou help groei, een plasing op ’n slag,” sê Groenewald.

Handhaaf sosiale etiket
Net omdat jy iets op sosiale media kan plaas, beteken dit nie jy moet dit in alle gevalle doen nie, waarsku Groenewald. Sy gee die volgende wenke om ” ‘n goeie mens aanlyn” te wees:
Moenie dit aanlyn sê as jy dit nie persoonlik vir iemand sou sê nie
Moet nooit vergeet dat jy met ‘n ander werklike mens interaksie het nie. Vra jouself voortdurend: “Sou ek gemaklik wees om dit in die persoon se gesig te sê?”
Kontroleer feite
Die verspreiding van vals nuus kan ernstige gevolge hê. Maak seker van jou feite en doen navorsing voordat jy inhoud plaas, deel of aanstuur, insluitend teks, beeld en stemnotas. Dit sluit inhoud in wat jy op WhatsApp ontvang.
Moenie aanlyn wees wanneer jy kwaad (of onder die invloed) is nie
Wanneer jy kwaad of ontsteld is, raak eers kalm voordat jy plasings maak.
Moenie foto’s plaas sonder mense se toestemming nie
Voordat jy ‘n foto van iemand anders plaas, onthou om altyd hul toestemming te vra. Wees veral versigtig om foto’s te plaas waar ander mense se kinders verskyn.
Bly vriendelik
Wees ‘n goeie mens wanneer jy aanlyn is. Moenie vreesaanjaende, negatiewe, vernederende of beledigende inhoud plaas of versprei nie. Wees vriendelik en versprei eerder positiewe en opbouende inhoud.
You must be logged in to post a comment.