As ’n toeris voel ’n mens nie sommer omgekrap in Suid-Korea, “the land of morning calm”, nie. Behalwe wanneer jy by ’n café instap en ’n selfoon, skootrekenaar of baadjie verlate sien lê op die ideale tafel waarby jy graag sou wou sit.
(Want dit is hoe Suid-Koreane aandui: Dit is my tafel; ek het kos gaan bestel, of deur die winkels gaan drentel.)
Was dit nie vir ’n kind wat aan dié suidelike puntjie van die Koreaanse-skiereiland werk nie – in ’n land wat 12 keer in Suid-Afrika kan inpas – sou ’n eerstehandse belewenis van dié doeltreffende land dalk nooit plaasgevind het nie.
Boonop is Suid-Korea in Desember grootliks onder ’n sneeumantel bedek. Om tydens ’n Suid-Afrikaanse somer op die vliegtuig te klim en ná ongeveer 19 uur in die lug (en ná een tussenstop) in ’n Suid-Koreaanse winter af te klim, het sy eie klein uitdagings.


Sneeu, soos dié in Dongtan, waar die meeste van Samsung se fabrieke geleë is, kan deur die dag soos mis voor die son verdwyn. Wat dan agterbly, is ’n glipperige spulletjie waaroor jy katvoet moet loop. Foto's: Jacques Jansen van Vuuren
Ongeag die 52 miljoen inwoners wat in die land effens kleiner as die Noordwes-provinsie en effe groter as KwaZulu-Natal inpas (teenoor Suid-Afrika se algehele bevolking van nagenoeg 60 miljoen), skuur jy nie skouers nie en kners jy nie op jou tande nie.
Want Suid-Koreane leef gedemp; van die volume van hul stemme, hul gunstelingkleure – grys en swart – tot hul liggaamsgrootte wat selde as mollig en allermins swaarlywig beskryf kan word.
Hulle dring nie in jou persoonlike ruimte in nie; is nie morsjorse nie; hou skedules op tyd; en neem aan dat almal eerlikheid uitleef.
Sê Samsung, sê Suid-Korea
Op dag twee in die allemintige hoofstad Seoul (met die uitspraak nader aan “Soul” as aan “Sie-oul, en sy nuutste bemarkingsleuse “Seoul, my soul”), besef jy dat selfs die strate stiller is, ongeag die nimmereindigende stroom busse, sedanvoertuie en bromponies.
Dit is te danke aan die groot aantal elektriese voertuie, busse ingesluit, wat in dié tegnologies-vooruitstrewende land gebruik word.
Ongeag van anneksasie deur Japan (1910-1945), gevolg deur die driejaarlange oorlog tussen Noord- en Suid-Korea (1950-1953), het ekonomiese ontwikkeling hier sedert die 1960’s drasties plaasgevind.
Ná die Koreaanse oorlog was Suid-Korea een van die armste lande ter wêreld, aldus die internasionale Centre for Economics and Business Research. In 1953 was dié land armer as Somalië en Haïti, wat steeds van die armste is.

Vandag bedryf Suid-Korea volgens talle bronne, insluitend forbesindia.com, die 13de grootste ekonomie in die wêreld. Die land is ’n hoofvervaardiger van onder meer elektronika, voertuie en skepe, wat na 58 lande uitgevoer word.
Samsung, Kia, Hyundai en LG Electronics is vier van Suid-Korea se bekende handelsname, ook in Suid-Afrika te kry.
Argieffoto’s van Suid-Korea in die 1960’s is algeheel kontrasterend met die wolkekrabbers, snelweë, reusagtige winkel- en besigheidsentrums met kleurryke beligting snags, stadsparke met uitgebreide staproetes en duisende landboutonnels wat die bergryke land vol staan.

Saggies praat is goeie raad
As deel van ’n hoflikheidsgebruik in Suid-Korea praat jy nie hard of enigsins in ’n bus of trein nie. In die KTX-sneltrein tussen Seoul-stasie en die Incheon-internasionale lughawe word aangekondig: “Please refrain from talking” – dit sluit praat oor ’n selfoon in.
Dié saggies-praat is net so ongewoon soos die winkels wat 24 uur oop en onbeman gelaat word. Hier skandeer jy jou benodigdhede en betaal by ’n masjien sonder iemand wat jou dophou.
Dit is nie ongewoon om in gastehuise met gemeenskaplike kombuise ’n skinkbordjie met geldnote saam met die produkte in die yskas te sien nie. Nadat jy die prys op die lys teen die yskasdeur vasgestel het, plaas jy jou geld in die skinkbordjie en tel jou eie kleingeld af.


Links: Eerlikheid is vanselfsprekend wanneer pakkies oornag voor toe deure afgelewer word, sonder die gedagte dat dit gesteel sal word. Regs: ’n Skinkbordjie met geld in die gemeenskaplike yskas van ’n gastehuis dui aan: Kry wat jy nodig het, en sit jou geld neer. Foto’s: Helena Barnard
Boonop lewer koeriers snags pakkies voor toe deure van ondernemings af; of bedags voor woonsteldeure waar die bewoner ure later ná werk die pakkie kry.
Selfoonherlaaipunte, waar selfone onbewaak gelaat word, is algemeen op treinstasies, by lughawens en in winkelsentrums of eetplekke.
Kry vir jou ‘n warm patat
Op ’n “fris” oggend met ’n buitetemperatuur van -11 °C begin ons verkenning in ’n deel van Seoul, by die Donhwamun-hek wat toegang na die Changdeokgung-paleis en -terrein bied. Die hek is oorspronklik in 1412 gebou, en is sporadies deur die eeue beskadig en herbou.



Links bo: Die temperatuur soos op ‘n fris wintersoggend in Seoul. Regs bo: Kleurige patrone, kunstige houtwerk en kleiteëls in allerlei patrone is deel van hierdie hanok. Die oorhangende dakrande bied verdere beskerming teen wind en reën. Bo: Die historiese Donhwamun-hek verleen toegang tot die Changdeokgung-paleis en -terrein. Die hek is oorspronklik in 1412 gebou, en is sporadies deur die eeue beskadig en herbou. Foto’s: Helena Barnard / Jacques Jansen van Vuuren
Ná ’n uur of drie se gesnak na asem oor boustyle, kunstige houtwerk, dekor en ’n versugting oor doeltreffende eenvoud – en omdat die tyd aanstap – mik ons straatop.
Die koue en hongerte knaag, en elke koffiehuis – of café soos dit daar genoem word – word verlangend bekyk. Gou besef jy die mening dat daar elke 50 m ’n café in Seoul is, is so goed soos waar.
In ’n knus eetplekkie kom jy gou agter: Hier is dit warm. Uit met die baadjie, af met die serp. Want dit is nie ongewoon dat binneruimtes in die winter tot 30 °C verhit word nie.
Aan die ander kant van die venster stap gehandskoende mense in gepofte jasse op witgesneeude sypaadjies terwyl hulle koue wolkies asem uitblaas.
Versterk (en verhit) stap ons verder straatop; net om kort-kort in ’n dwarsstraatjie af te dwaal; of botstil te bespiegel oor waarom daar straatblokke aaneen slegs juwelierswinkels skouer-teen-skouer staan; of hardewarewinkels; of Koreaanse braairestaurante.

“Welcome in Korea!” groet ’n bejaarde man van langs ’n rak met pypklampe en ander waterpypbenodigdhede. Dit is duidelik dat dié rak snags met ’n seil toegemaak word, en nie agter slot en grendel nie.
Sou jy gou weer ’n hongerte beleef, koop ’n warm gebakte patat. Dié gesogte lekkerny word oral oor in klein oondjies gebak wat op sypaadjies staangemaak word.
Dié straat loop dood teen die Namsangol Hanok-dorpie, waar nog ’n paar uur verwyl word. Hier tref ’n mens ook die Seoul-millenniumtydkapsule aan. In 1994, om Seoul se 600ste viering as die hoofstad van Korea te vier, is 600 artikels wat die beste met dié stad vereenselwig kon word, hier gestoor. Volgens beplanning moet dit op 29 November 2394 oopgemaak word, tydens die duisendste vieringsjaar.
Teen laatmiddag is dit straataf; om dan te besef dat ’n hele dag in ’n enkele straat deurgebring is en jy skaars meer as 5 km gestap het. Die besef, dat dié straat en die nabygeleë historiese landmerke nog veel het om te ontdek, bly knaag.
Oor Harry Potter, 50 katte en wriemelende palings
Dink aan ’n tema, en dit is waarskynlik reeds in ’n “trendy”, “cute” of “unique” café gebruik.
Die Greem Café laat jou voel of jy in ’n swart-en-wit-tekenprent instap. In ’n Aqua Garden Café teug jy aan jou gegeurde koffie (warm of met ys, soos alle drinkgoed op die spyskaarte) terwyl visse in die akwariummure rondom jou swem. In die Thanks Nature Café deel jy die ruimte met twee (lewende) spierwit, wollerige skape.


Links: Die dekor van die Greem Café in Seoul lyk soos ‘n swart-en-wit-tekenprent. Selfs die breekware is wit met swart strepies, wat die tekenprent-effek versterk. Dit is een van glo meer as 18 000 koffiehuise in die stad. Regs: ‘n Restaurant en café in Busan, met Die Klein Prinsie na aanleiding van die boek van Antoine De Saint-Expury as tema. Saam met die Klein Prinsie het jy ’n uitsig oor die stad en strandgebied. Foto’s: Helena Barnard
In die Cat’s Playground geniet jy jou verversings in die teenwoordigheid van meer as 50 uitgevrete katte, wat jy na hartelus kan troetel. By die Dog Café kan jy met die kafeehonde meng, of jou eie opgetofde hondjie in ’n drasak daarheen neem (’n gewilde kombinasie van twee “mode-artikels”).
Die Harry Potter Café het nie verduideliking nodig nie, ook nie Hello Kitty en die Poop Café waar gebak en dekor die tema weerspieël nie.
’n Besoek aan ’n teehuis bied ’n ander belewenis, so ook die meer tradisionele soethappies wat voorgesit word.

Geen mens kan egter net op perfek-gebakte soetgoed oorleef nie.
Besoek ’n “Korean BBQ”-restaurant waar die vleis voor jou gaargemaak word; bedien met onder meer kimchi (gefermenteerde, gegeurde kool), sampioene, tradisionele noedels, gegeurde rys, en bakkies vol ingelegde seewier, radyse, rissies en ander onbekendhede. Pak dit met eetstokkies aan.
Wanneer ’n personeellid met die intrapslag jou stoel se sitplek optel om die oop drom daaronder, wat aan ’n swart asblik herinner, uit te wys: Dit is nie die asblik nie. Dit is om jou jas, baadjie, serp of handsak in te bêre om teen braaispatsels te beskerm; daarna ontvang jy boonop ’n “borslap” wat tot op jou skoot hang.

Het jy ’n waaghalsige behoefte om dieper in die Suid–Koreaanse kookkuns te delf? Drentel deur een van die horde straatkosmarkte waar van die heerlikste tot die grillerigste eetgoed te koop is, soos vars aarbeie op ’n stokkie en bedek met ’n harde suikerstrooplaag, of wriemelende palings en swemmende seekatjies wat voor jou oë gaargemaak word.
Sou jy slegs genoeg energie oorhê om iets vinnig by jou blyplek voor te berei, besoek ’n GS25 of ’n Seven Eleven (ongetwyfeld in elke straatblok beskikbaar) waar jy reeds-voorbereide geregte en ander kosprodukte kan koop.

Hanok, hanbok wys kultuur
- Besoek Hanok-dorpies wat oor die hele land, ook in stede, versprei is. Hanok is ’n argitektoniese styl van tradisionele Koreaanse huise. Van die dorpies bevat die oorspronklike huise van vervloeë jare, terwyl ander later in ’n spesifieke ruimte ingerig is om die tradisionele manier van lewe, en maatskaplike en politiese geskiedenis, weer te gee. Vir ’n besoek aan so ’n dorpie kan jy hanbok huur, wat tradisionele Koreaanse klere is.
- Word wys in ’n museum – kultuurhistories, kuns, of die met temas soos toilette, kimchi, erotika, uile, hoenders, kruie en meer.
- Vind die natuur in stedelike gebiede, doen die uitgebreide staproetes in die parke of maak gebruik van die gratis oefentoerusting onder die bome.
- Wees deel van ’n toergroep en pluk aarbeie, gekweek in tonnels, ook in die winter. Kyk na adventurekorea.com of trazy.com, wat op toere vir buitelanders gemik is.
- Besoek ’n ski-oord en geniet die sneeu op ski’s of ’n sneeuplank.
- Klim op ’n sneltrein, of ’n stadiger trein, en wyk uit na ander dorpe, stede en provinsies van die land, terwyl verbyflitsende landskappe bewys daarvan is dat elke oop stukkie grond landboukundig bewerk word, en nuwe brûe, snelweë en wolkekrabbers steeds in aanbou is.


Hangul bring geletterdheid vir almal
Koning Sejong (1397-1450) het Hangul (ook Hangeul) tot stand gebring en dié Koreaanse skrif is die enigste skryfstelsel ter wêreld wat doelbewus geskep is. Dit was Sejong se geslaagde poging om geletterdheid onder alle Koreane, ongeag maatskaplike status, te bevorder.
Unesco ken sedert 1989 die Koning Sejong-geletterdheidsprys toe aan instellings, organisasies of individue wat dit daadwerklik nastreef om ongeletterheid oor die wêreld heen te verminder.
Koreaans is die enigste amptelike taal hier, met ’n dialek vir die suide en een vir die noorde.

Ander feite oor Suid-Korea
- die algemene werkloosheidsyfer is 3,53% (2021);
- die jeugwerkloosheidsyfer (15 tot 24 jaar) is 7,8% (2021);
- altesaam 3 400 eilande is deel van sy landsgebied, met 473 wat bewoon word, die ander is te klein;
- die lewensverwagting is 83,6 jaar;
- die bevolkingsgroei is negatief, met ongeveer 0,78 kinders per vrou;
- in die ouderdomsgroep 19 tot 34 jaar is ongeveer 800 000 minder vroue as mans;
- in 2021 is 1,3 moorde per 100 000 gepleeg, teenoor 45 per 100 000 in Suid-Afrika;
- geweld word op televisiekanale gesensor; en
- die mobiliteit van bejaardes en hul gebruik van oefenapparate in parke is opmerklik.
Werd om te weet
- Vir toerisme-doeleindes het Suid-Afrikaners ’n elektroniese reismagtiging, ’n K-ETA, nodig. Doen aanlyn aansoek op k-eta.go.kr, betaal jou fooi, en binne ’n dag of twee is die magtiging in jou e-pos. Druk dit uit en hou dit by jou paspoort.
- Koop ’n data-kaart en data vir jou selfoon by die Incheon-internasionale lughawe. Gratis WiFi is oral beskikbaar; maar op sypaadjies en in ander buiteruimtes kan die sein jou in die steek laat, juis wanneer jy die busskedule wil bevestig of ’n taxi op ’n app wil “roep”.
- Skaf ’n T-money-kaart by ’n Seven Eleven aan en deponeer geld daarin. Hiermee kan jy van die meeste busse, taxis, ondergrondse treine en battery-aangedrewe fietse gebruik maak. Elektroniese skopfietse is ook te huur, waarvoor jy ’n app nodig het.


- Nuttige apps om af te laai is Naver Maps of Kakao Maps (Google is nie so akkuraat hier nie.) Naver bied ook ’n soekenjin en Kakao onder meer Kakao T – vir taxi – wat meer hier gebruik word as Uber. Kakao T doen vertaalwerk, wat Uber nie doen nie.
- Gebruik die Naver Papago-app wat kan help met vertaling tydens ’n gesprek of Hangul op verpakkings of inligtingsborde.
- Aktiveer jou Suid-Afrikaanse debiet- en kredietkaart vir gebruik in Suid-Korea deur ’n verstelling op jou bank-app. Kaarttransaksies is baie goedkoper as om kontant te trek. Hou wel ’n paar Koreaanse Won in jou beursie.
- Besoek Suid-Korea in sy winter vir sneeu; in die lente vir bloeisels; en in die herfs vir kleurvolle blare. In die somer, gewoonlik in Junie tot Augustus, kry Suid-Korea sy “jangma” of “lang reën”. Ná die hewige reënbuie is die humiditeit baie hoog.
- Trek jou skoene uit voordat jy jou kamer of ’n private huis binnegaan. Dit is nie ’n obskure ritueel nie; dit is slegs om die vloere so skoon moontlik te hou.
- Wanneer jy iets betaal, gee jou bankkaart of geld met altwee hande aan, of met een hand onder die ander; dit toon respek.
- Wees gereed om op die vreemdste plekke skattige prentjies, karakters of teddiebeertjies te sien; en paartjies wat identies aantrek.
- Die mees bekostigbare opsie vir vliegtuigkaartjies was in dié geval by Ethiopian Airlines, met ’n tussenstop by die Bole-internasionale lughawe in Addis Ababa.
- Verblyf in Suid-Korea is maklik bekombaar en bekostigbaar op talle verblyfwebwerwe, insluitend AirBnB. Soek verblyf so na as moontlik aan dit wat jy wil besoek. Pendel neem tyd in beslag, hoewel dit deel van die ervaring is.
Dalk het ’n mens afgestomp geraak in Suid-Afrika, waar doeltreffendheid of nie bestaan nie of net-net gangbaar is; waar estetika nie oorweeg word nie; waar ’n mens omkyk-omkyk leef; en waar jy ver moet soek om een sypaadjie of buurt sonder omgeryde pale, stukkende sypaadjies, hope rommel en verwaarloosde parke en oop ruimtes te kry. Want wanneer jy op Incheon aan boord stap, bruis die belewenis van kunstige doeltreffendheid deur jou. Tog voel jy omgekrap: Jy sou nog in Suid-Korea wou bly en van die kalmte wou absorbeer.

You must be logged in to post a comment.