Ons almal ken die gevoel van moeg wees. Soms is dit die moegheid ná ‘n lang dag van fisieke en volgehoue arbeid. Menige keer lê ons moegheid op ‘n baie dieper vlak.
Dit is daardie soort moegheid wat ons beetpak in ons gespook en gespartel om huis en haard bymekaar te hou. Dit is al ons bekommernisse wat ons uitmergel. Ons is moeg vir al die verantwoordelikhede wat ons soms alleen moet dra, moeg van teleurstellings, moeg daarvan om altyd sterk te probeer wees.
Dit is juis aan sulke mense dat Jesus in Matteus 11:29-30 sê: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”
Dit is opmerklik dat Jesus nie sê dat daar geen juk of las in die lewe sal wees nie. Hy nooi ons eerder om in te val onder sy juk.
Die storie word vertel van die ou boer wat die groot os en die jong tollie saam ingespan het om te ploeg. ‘n Jong man het die besigheid so bekyk en vir die ou boer gesê: “Dit is darem onregverdig! Die ou bul doen dan al die trekwerk.” Die ou boer het gesê: “Ja, dit is so. Die ou bul doen al die trekwerk, maar die jong tollie moet leer om onder die juk te staan.”
Dit is presies wat Jesus sy volgelinge wil leer. Die verskil is: Jesus doen al die harde werk en ons kan by hom leer. Ons leer by Hom wat dit beteken om Hom te vertrou.
Leer om van Hom afhanklik te wees. Leer wat dit beteken om op die geloofspad te volhard.
Dan volg die belofte: “Julle sal rus vind vir jul gemoed.”
Ware rus beteken nie noodwendig dat al jou probleme verdwyn nie. Dit beteken dat jy nie jou probleme alleen hoef te dra nie. Ons kan ons bekommernisse, vrese en onsekerheid in God se hande plaas.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.



