Lees Ps.1:1 (1993- Afrikaanse vertaling): “Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie.”
Psalm 1 nooi ons om te vra: Waarheen loop ek? Waar staan ek? En saam met wie sit ek?
Die antwoord hierop is bepalend vir ons geluk.
Ja, iemand wat reg loop, staan en sit is welgeluksalig en sal geluk in oorvloed hê.
Ons manier van loop, verklap dikwels iets.
Sommige loop reguit en doelgerig; hulle is eerlik en betroubaar. Ander loop suutjies of draaie omdat hulle besig is met dinge wat nie die lig kan verdra nie.
So ook verklap die manier van staan iets van jou.
Soms kan ons aan iemand se staan sien hy beplan kattekwaad – wanneer hulle staan en loer, plannetjies maak, of niksdoen.
Ons sê sulkes staan vir kwaadgeld rond.
Maar daar is ook dié wat trots en menswaardig staan. Doelgerig staan, gereed staan, ander bystaan.
Ons sit is net so betekenisvol.
Met wie bring ons tyd deur? Watter gesprekke en invloede vorm ons? Daar is geselskap wat opbou en nader aan God bring, maar ook wat afbreek en ons van Hom wegtrek.
Psalm 1 herinner ons daar is uiteindelik net twee paaie: die van die goddelose of van die regverdige. Ons kan nie met een voet op elke pad staan nie.
Die pad van die goddelose lyk dikwels aanloklik en vol beloftes, maar eindig in teleurstelling en vernietiging.
Op die pad van die regverdige vind hulle vreugde in die Woord van God en soek sy wil vir hul lewe.
Sy Woord gee rigting, voed hul geloof en bring vrug voort.
Wie sy pad op God rig, ontdek die ware geluk waarvan Psalm 1 getuig.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.


